Diereliefhebbers in Auckland, Nieu-Seeland, is in oproer oor planne om tydens die Wêreldbeker-Rugbytoernooi 1 000 skape deur die stad se hoofstraat te jaag.
Dié idee is bedink na aanleiding van Spanje se “Running of the Bulls” wat jaarliks plaasvind. Die 1 000 skape sal glo deur Queenstraat in Auckland gejaag word, met skaaphonde en vroue in bikini’s wat hulle op vierwielmotorfietse agterna sal sit.
Die Nieu-Seelandse Dierebeskermingsvereniging is egter oorval met klagtes oor dié planne. Volgens Robyn Kippenberger van die Nieu-Seelandse Dierebeskermingsvereniging vorm dié plan deel van die Real New Zealand-fees wat gereël is om tydens die rugbytoernooi plaas te vind.
Moontlike vervolging
“Sou van die skape tydens die aktiwiteite seerkry, sal hul eienaars moontlik ingevolge ons wetgewing vervolg kan word, wat nie goed sou lyk vir die Wêreldbeker wanneer die oë van die wêreld op Nieu-Seeland is nie,” sê sy.
Kippenberg sê verder hulle teken sterk beswaar aan teen die onmenslike behandeling van dié diere ter wille van mense se vermaak.
’n Soortgelyke geleentheid het in 2009 konsternasie veroorsaak toe 1 500 skape in die Nieu-Seelandse dorp Te Kuiti losgelaat is. Van die skape het oor ’n heining in die dorp se hoofstraat gespring en ’n vrou omgestamp. Die vrou het haar bewussyn verloor tydens die voorval.
Bron: Sport24
15 Augustus 2011