Aktiviste en omgewingsgroepe wat gekant is teen die gebruik van hidrouliese breking om skaliegas te ontgin, is steeds in die duister oor die multi-dissiplinêre ondersoek na die proses wat die Minister van Minerale Hulpbronne op 21 April aangekondig het.
Me. Melissa Fourie, uitvoerende direkteur van die Sentrum vir Omgewingsregte (CER) in Observatory, Kaapstad, sê hulle het einde Mei aan die minister geskryf om meer inligting oor die beoogde ondersoek te kry.
“Ons wil weet wie die lede van die ondersoekspan is, wat die opdrag aan die span en die sperdatum vir die ondersoek is, en of die minister beoog om die navorsingsverslag bekend te maak.”
Beswaar gemaak
Intussen het die aksiegroep Treasure the Karoo (TKAG) daarteen beswaar gemaak dat Shell die parlementêre portefeuljekomitee oor wetenskap en tegnologie toespreek.
Mnr. Jonathan Deal, nasionale koördineerder van die TKAG, sê so ’n voorlegging (wat toe nie plaasgevind het nie) sou problematies wees omdat die portefeuljekomitee die proses moes respekteer en wag totdat die multidissiplinêre taakspan die voor- en nadele van hidrouliese breking ondersoek het.
Deal het ook gesê dit maak nie sin om net een maatskappy, naamlik Shell, te nooi om ’n voorlegging te doen en nie ander, soos Bundu en Falcon, wat ook eksplorasieplanne in die Karoo het nie.
1 Junie 2011