Die besoedeling van grondwater is ’n sleutelrisiko wanneer skaliegas ontgin word, sê ’n span Britse navorsers wat die moontlike gevolge van dié ontginning vir die omgewing ondersoek het.
“Die afmaak van enige risiko as onbeduidend is moeilik regverdigbaar, gegewe die opgetekende voorbeelde van wat in Amerika gebeur het, klaarblyklik weens swak konstruksiewerk en/of foute aan die kant van operateurs.
Hoë vlakke
“In hierdie voorbeelde het hoë vlakke van besoedelingsmiddels, soos benseen, yster en mangaan, in grondwater voorgekom. Dit het ook ’n aantal ontploffings ingesluit, wat die gevolg van die opbou van gas in grondwater was,” lui hul verslag, wat onlangs uitgereik is.
Dit is opgestel deur ’n span van die Universiteit van Manchester se Tyndall-sentrum, wat wetenskaplikes, ekonome, ingenieurs en sosiale wetenskaplikes byeenbring om navorsing oor klimaatsverandering te doen.
Ondersoek
Hul ondersoek was in opdrag van die Sustainable Change Co-operative, ’n organisasie in Manchester wat ondernemings help om volhoubare verandering te bewerkstellig.
Die doel van die verslag was om ’n voorlopige oorsig oor die risiko’s en voordele van die ontginning van skaliegas as onkonvensionele brandstofbron te gee.
Lees `n volledige artikel hieroor in Landbouweekblad van 18 Februarie. Lees ook hier die betrokke verslag van die wetenskaplikes.