Omgewingsbewustes in wit jasse en maskers het Dinsdag (9 Augustus 2011) in Kaapstad teen hidrouliese breking (fracking) as deel van die soeke na skaliegas in die Karoo betoog.
Dié uitrustings is gedra as verwysing na wetenskaplikes wat vir Shell werk. Die optog is gereël deur Earthlife Africa.
Mnr. Jan Willem Eggink, hoofbestuurder van Upstream-werksaamhede van Shell Suid-Afrika, het Landbouweekblad onlangs besoek.
Betwis
Eggink sê hidrouliese breking is nie die probleem nie. Volgens hom is die probleem eerder die persepsie oor hidrouliese breking.
Die groep betogers stem egter glad nie saam met Eggink nie. Volgens me. Marina Louw van die Climate Justice Campaign reken hulle dat hidrouliese breking nie net die Karoo sal beïnvloed nie, maar ook ’n impak sal hê op die helfte van Suid-Afrika se landmassa, insluitend dele van die Drakensberge.
Mnr. Jonathan Deal, voorsitter van die Treasure the Karoo Action Group (TKAG), besoek Landbouweekblad volgende week vir ’n gesprek oor hoe die TKAG die toestaan van lisensies om na skaliegas in die Karoo te soek, teenstaan.
Hou Landbou.com dop vir meer oor dié gesprek.
Bron: Nuus24
10 Augustus 2011