
“Ons swakste sonkrag-hulpbronne is beter as Duitsland se bestes,” volgens mnr. André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom. “Boonop kan wind- en sonkrag nie soos Eskom se steenkool gesteel word nie. Dit kan ook nie soos steenkool na China uitgevoer, daar verwerk en as verwerkte produkte terug na Suid-Afrika gebring word nie.”
Dit is duidelik steenkool is volgens hom nié die toekoms van kragopwekking in Suid-Afrika nie, “maar litte moet geroer word met die oorskakeling na hernubare energie.
“Die steentydperk het nie geëindig omdat die wêreld nie meer klip gehad het nie. Die feit dat Suid-Afrika steenkool het, beteken nie ons moet net aanhou om dit te gebruik nie,” het hy Donderdag tydens ’n aanlyn seminaar van Daily Maverick gesê.
“Ons moet so vinnig as moontlik meer kapasiteit vir die kragnetwerk verkry wat steenkool kan begin vervang. As ons hierdie oorgang nie gou genoeg kan aanpak nie, gaan dinge duister daarna uitsien.”
Regeringsbeleid moet saamwerk
Volgens hom kan doelgerigte en meer vaartbelynde regeringsbeleide help om meer hernubare energie tot die nasionale kragnetwerk te voeg en Eskom te help om die “skip om te draai.”
Dit is ook nodig om private beleggers te lok om in hernubare kragopwekking te belê, maar hulle soek versekering dat regeringsbeleide gunstig sal wees.
“Beleggers soek beleide wat voorspelbaar, stabiel en konsekwent is.”
Hy erken daar is wel geldige vrese dat geld wat wel in kragopwekking belê word, misbruik sal word. “Eskom moet hierdie geld voldoende kan bestuur. Ek sal nie omgee as kontrakteurs direk deur leners betaal word nie pleks daarvan dat betalings deur Eskom plaasvind.”
Georganiseerde misdaadnetwerke steel van Eskom
De Ruyter het gesê een van die groot struikelblokke waarmee Eskom daagliks te doen het om onder meer ligte aan te hou, is die effek wat diefstal en sabotasie op sy bedrywighede het.
Landbouweekblad het gister berig oor ’n vragmotorbestuurder wat vasgetrek het nadat hy na bewering steenkool van ’n hoë gehalte gesteel het.
“Ons moet private sekuriteitsmaatskappye aanstel om met misdaad te help, dit te ondersoek en mense vas te trek, soos onlangs in die media berig is. Hierdie misdadigers werk in georganiseerde netwerke en dit sal ’n fout wees om te dink diefstal vind in uitsonderlike gevalle plaas. Sindikate steel reeds jaarliks miljarde rande by Eskom.” Hy het gesê die sindikate is veral bedrywig in Mpumalanga.
Wat van privatisering?
TLU SA het Donderdag sy veldtog afgeskop om daarop aan te dring dat die regering Eskom privatiseer.
“Suid-Afrika staan voor ’n keerpunt met sy kragkrisis. TLU SA doen ’n beroep op die regering om Eskom te privatiseer, want die huidige stand van sake kan die land oor die afgrond stuur. Die privatisering van Eskom is die enigste antwoord en oplossing vir die land se energie en ekonomiese krisis. Eskom se probleme is bedryfskwessies en finansieel. Om net aan te hou met klein veranderinge en die skuld van Eskom heen en weer te skuif, gaan die probleem nie oplos nie,” sê mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.