Strenger wette word rakende die vetsuur- en sout-inhoud van voedsel beplan, sê dr. Aaron Motsoaledi, Minister van Gesondheid.
Luidens die Departement van Internasionale Verhoudinge en Samewerking se nuusbrief het Motsoaledi dié aankondiging die naweek in Kaapstad gemaak.
Motsoaledi se mikpunt vir 2012 is om Suid-Afrikaners meer gesond te maak deur gesonder leefstyle en eetgewoontes aan te moedig. Die Minister sê hy is bekommerd oor die effek wat nie-oordraagbare siektes op die samelewing het.
“As ons nie ingryp wat onnatuurlike oorsake vir dood betref nie – insluitend MIV, tuberkulose, dood tydens swangerskap, kindersterftes en geweldadige sterftes nie – sal ons lewensverwagting teen 2016 weer wees wat dit in 1965 was”, sê Motsoaledi.
Groot lawaai
Die Minister sê sy departement sal dié jaar ‘n “groot lawaai” maak oor sleutelfaktore wat tot nie-oordraagbare siektes lei soos rook, alkohol gebruik, swak dieetgewoontes en ‘n gebrek aan oefening.
Die land se bevolking maak sowat 0,7% van die wêreldbevolking uit, maar dit dra die las van sowat 1% van die wêreld se nie-oordraagbare siektes. Dít is twee tot drie keer meer as in ander ontwikkelende lande.
“Ons moet vetsure beheer... ons moet soute beheer, soos soutoplossings in hoender en sout in brood, graankosse en soppe. Ons het wette nodig om die vlakke van dié dinge in ons kos te verlaag. As ons parlement toe moet gaan om dit goedgekeur te kry, sal ons,” sê Motsoaledi.
Verwelkom
Intussen sê mnr. Chris Schutte, hoof uitvoerende beampte van Astral Foods, hulle sal maatreëls in dié verband verwelkom. “Dit sal wanpersies oor die sout-inhoud in hoender moontlik regstel.”
Schutte sê hulle steun die nuwe bepalings oor meer gedetaileerde inligting wat op die etikette van voedsel moet verskyn.
“Baie volledige inligting sal van 1 April af op ons etikette verskyn, en as sulke stappe oor voedselregulasies sou volg, sal ons dit ondersteun sodat korrekte inligting versprei kan word.”
13 Februarie 2012