Die ANC se aansoek vir verlof tot appél teen die verbod op die “skiet die boer” (dubul’ iBhunu)-lied, sal teengestaan word, sê die Vryheidsfront Plus (VF Plus).
Luidens ‘n berig in Beeld (25 Oktober) het me. Thandi Modise, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, die aansoek namens die party by die Johannesburgse Hooggeregshof ingedien.
Dié party sê die lied vorm deel van die geskiedenis van die vryheidstryd en dit word steeds deur sy ondersteuners gesing. “Dit is met respek dat ek aanvoer dat daar oordeelkundig kennis geneem word dat die betrokke lied deur letterlik duisende Suid-Afrikaners geken en gesing word. Die gevolge daarvan om hierdie orde te verbreek is duidelik vooroordeel,” lui die aansoek glo.
Dié aansoek volg glo na ‘n uitspraak van waarnemende regter Leon Halgryn wat in Maart vanjaar in dieselfde hof gesê het die lied is “ongrondwetlik en onwettig”, aangesien dit tot opswepery en misdaad kan lei.
Steun vir die wrede boodskap?
Intussen sê die VF Plus dié aansoek skep die indruk dat die ANC die lied se boodskap ondersteun, en sodoende bevorder die party rassehaat en -spanning in die land.
“Die ANC moet eerder daaraan aandag gee om moreel te transformeer na ‘n organisasie wat billikheid internaliseer en uitleef eerder as om van die samelewing te verwag om op rassegronde te transformeer. Dit is duidelik dat die ANC in die verlede vasgevang is en dat hul nie die sensitiwiteit van Suid-Afrika verstaan nie,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder vir kommunikasie.
Volgens Alberts sal sy party die verloop van die saak fyn dophou, alles nagaan en die aansoek uiteindelik teenstaan.
26 Oktober 2010