
Luidens ’n verklaring het Steenekamp in die hospitaal gesterf nadat hy onlangs weens covid-19-verwante komplikasies opgeneem is. “Hy sal vir altyd ’n ware legende in die Suid-Afrikaanse landboubedryf bly en sal deur almal by Bayer Crop Science gemis word.”
Dr. Klaus Eckstein, uitvoerende hoof van Bayer Suider-Afrika, het sy medelye met Steenekamp se eggenoot, Pamela, en hul kinders, Stéfan, Christiaan, Reinhardt en Clarissa, asook sy familie en vriende uitgespreek. “Mag julle in vrede rou en sy lewe vier.
“Hierdie sagmoedige reus sal onthou word vir sy leierskap, vriendskap en humorsin. Kobus se meelewing vir ander en sy liefde vir sy familie was die kern van sy menswees. Sy kennis en kundigheid in die bedryf het ’n blywende impak gemaak op die boere en kollegas saam met wie hy oor dekades heen gewerk het. Ons sal die verlies van hierdie dierbare kollega en vriend nog lank betreur en ons bid sy familie sterkte en genade toe.”
Steenekamp is in 1972 in Brits in Noordwes gebore, waar hy in 1990 aan die Hoërskool Brits gematrikuleer het. Daarna het hy die graad MScAgric aan die Universiteit van Pretoria verwerf, wat opgevolg is deur die graad MBA aan die Noordwes-Universiteit.
Voordat hy hom by Monsanto SA aangesluit het, waar hy die grootste deel van sy loopbaan gewerk het, was Steenekamp deel van die produkontwikkelingspan van Bayer SA.
Hy het in 2001 by Monsanto SA aangesluit as landboukundige, waar hy op gewasbeskerming, biotegnologie en saad gekonsentreer het. Hy was sedert 2011 die nasionale bestuurder van Monsanto SA. Nadat Bayer Monsanto oorgeneem het, is Steenekamp op 1 Julie 2019 as handelshoof van Bayer SA se Crop Science-afdeling aangestel.