
Mnr. Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, het in die Staatskoerant afgekondig dat die minimum loon vir plaas- en huiswerkers van 1 Maart af styg tot R25,42/uur teenoor die R23,19/uur wat tot tot dusver was.
Dít is selfs meer as die jaarlikse verhoging van die verbruikersprysinflasie (VPI) plus 0,5% tot 1% wat die kommisie vir die nasionale minimum loon einde verlede jaar voorgestel het. Die jaarlikse VPI was toe op 7,4%.
Agri SA en arbeidsintensiewe sektore, soos die wyn- en vrugtebedryf, het einde 2022 die regering gevra om nie die minimum loon met meer as inflasie te laat styg nie, aangesien dit nie vir die landbousektor volhoubaar is nie. Daar is ’n verhoging gelykstaande aan VPI minus 2% voorgestel.
Mnr. Johan Wege, voorsitter van Agri SA se arbeidsentrum, sê hy was geskok toe hy die verhoging sien. “Ons het die afgelope jare verhogings van ver bo inflasie gesien en hierdie een is absoluut buite beheer. Dit maak dit vir ons baie moeilik. Enige verhogings bó inflasie in enige deel van die sektor maak dinge bykans onmoontlik vir ons boere.
“Dit veroorsaak dat ander planne gemaak moet word, wat insluit vertakkinge wat moet sluit, verdere meganisasie en minder werkers. In sommige provinsies sit ons reeds met werkloosheid van ver bo 50% en hierdie verhoging gaan dit verder vererger. Daar sal besluite geneem moet word.”
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê dit is kortsigtig, irrasioneel en onaanvaarbaar. “Daar is geen manier dat ons hierdie tipe verhogings in die huidige ekonomiese klimaat kan betaal nie. Dit gaan nie net oor die landbou nie, maar die ekonomiese stand van alle besighede in Suid-Afrika. Onder die ANC se beleid het ons nog net heeltyd ’n styging in werkloosheid en ’n daling in ekonomiese groei gesien. Hierdie sprong gaan dit verder in daardie koers vat.”
"Uiters geskok en teleurgesteld"
Mnr. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap (AWK), sê die ekonomiese impak van die nuwe minimum loon op die landbousektor kan nie misgekyk word nie. “Ons is uiters geskok en teleurgesteld oor die 9,7%-styging en dat AWK se aanbeveling aan die minimumloonkommissie nie in ag geneem is nie.
“Daar is tans groot bekommernis dat dié styging werkloosheid sal vererger. Die minimum loon beoog om huidige werknemers se las te verlig gegewe die styging in lewenskoste. Die AWK meen dat werkloses die swaarste gaan trek aangesien potensiële werksgeleenthede in die landbousektor nou soos mis voor die son verdwyn het.”
Hy sê die bykomende impak op arbeidsintensiewe vertakkings en ander landbouvertakkings is ook ’n enorme bedreiging vir winsgewendheid en volhoubaarheid. Produsente ervaar tans hewige druk vanuit verskeie oorde en die kosteknyptang sal produsente se voortbestaan in gedrang bring.
Arbeidsintensiewe sektore, soos die wyn- en vrugtebedryf, het reeds vroeër gewaarsku dat die voorgestelde verhoging in die nasionale minimum loon boere verby die punt sal dryf waar hulle winsgewendheid kan handhaaf.
Mnr. Anton Rabe, uitvoerende direkteur van Hortgro, sê hy het met verbasing en skok kennis geneem van die verhoging. “Dít kom ondanks deeglike navorsing en sinvolle insette wat aan die kommissie gelewer is. Dit laat ’n mens wonder of daar enigsins ag geslaan word op die konsultasieproses en kundige menings, en of dit hier bloot ’n geval was om ’n boksie af te merk.”
Volgens Rabe is die verhoging aansienlik meer as die aanduidings wat vroeër, tydens ’n tweede ronde van konsultasie, gegee is. “Hierdie aanpassing is totaal uit pas uit met die werklikhede van die landbousektor, wat reeds gebuk gaan onder amper onoorkombare probleme met beurtkrag, hawens wat onproduktief is, groot stygings in insetkoste, hoë rentekoerse en hoë inflasie. Hierdie besluit gaan beslis nadelige gevolge hê op indiensneming en werkloosheid. Eintlik, onbegryplik!”
Wynberyf herstel nog na covid-19
Mnr. Christo Conradie, bestuurder van wynkelders by Vinpro, sê die wynbedryf is tans midde in ’n stryd gewikkel om uit die kloue van covid-19 se gevolge te ontsnap. Daarom was daar juis ’n pleidooi tot die regering gerig om enige aanpassings in die minimum loon, spesifiek vanjaar, by n maksimum van inflasie te hou.
“Ongelukkig het die regering ons hier gefaal en duidelik met kortsigtigheid gehandel, wat ’n wrang smaak laat en dit is werklik ’n uiterste teleurstelling. Daar is werklik gehoop en staatgemaak op meer gebalanseerde optrede.”
Hy sê teen die agtergrond van die twee vorige verhogings van onderskeidelik 16% en 7% is daar uiterste kontantvloeidruk by produsente wat sedert die begin van die jaar onder verdere enorme spanning is weens beurtkrag en die koste van dieselaankope om die oes in te samel.
“Daar kan natuurlik verder lank bespiegel word oor die impak op werksverliese, sosio-ekonomies werklikhede, asook die verdere rimpel-effek van hierdie optrede. In ’n land met ’n werksloosheidsyfer van amper 40%, word hierdié optrede as skokkend beskou.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.