
Die minister van omgewingsake, bosbou en visserye, me. Barbara Creecy, het by die Gautengse hooggeregshof toestemming gevra om teen dele van regter Colleen Collis se uitspraak rakende lugbesoedeling in die Hoëveldse voorkeurgebied te appelleer.
Collis het op 18 Maart in haar uitspraak gesê die hoë vlakke van lugbesoedeling op Mpumalanaga se Hoëveld is ’n skending van die mense wat daar woon en werk, se grondwetlike reg op ’n skoon, veilige omgewing.
Sy het die staat opdrag gegee om regulasies te ontwikkel vir die toepassing van die Hoëveldse voorkeurgebied se lugbestuursplan wat ontwikkel is om die omgewing se lug te suiwer tot op voorgeskrewe gesondheidstandaarde. Sy het Creecy oor die vingers getik omdat sy haar grondwetlike plig om die regulasies te skryf en die lugbestuursplan in werking te stel “onnodig vertraag” het.
In haar verklaring ter ondersteuning van haar aansoek om verlof tot appel sê Creecy dat sy kennis neem van haar statutêre en grondwetlike verpligtinge en dat sy net op ’n beperkte basis wil appelleer. Sy maak dit ook duidelik dat sy nie die appèlproses wil gebruik om die opstel van regulasies te vertraag nie en dat hierdie proses sal voortgaan ongeag die appèl.
Die aansoek handel oor vier bevele wat op die interpretasie geskoei is dat die minister verplig is om regulasies voor te skryf ingevolge afdeling 20 van die Wet op Lugkwaliteit (Wet 29 van 2004) pleks dat sy haar diskresie mag gebruik in die besluit om regulasies voor te skryf.
Creecy sê hierdie interpretasie is van groot belang en strek wyer as net lugkwaliteit. Daar is glo etlike statute in die omgewingsreg met soortgelyke bewoording rondom die minister se regulatoriese magte. Daarom is dit vir haar belangrik om te weet of hierdie magte nie aan haar diskresie oorgelaat is nie, maar wel verpligtend is.