
Skotse burgers stem vandag in ’n referendum om te bepaal of hulle deel van die Verenigde Koninkryk (VK) bly óf hulle onafhanklikheid op-eis.
Meningsopnames vooraf was té na aan mekaar om ’n aanduiding te gee watter stem gaan wen en die wêreld sal vir die uitslag môre moet wag. Landbou.com was onlangs op besoek aan die land en ook wat die land se boere betref, was dit moeilik om te bepaal wat die meerdeheid verkies. Baie wou nie daaroor praat nie, maar dit wou tog voorkom of ouer boere (wat die meerderheid is) voorstanders vir die nee-stem is.
Mnr. Nigel Miller, voorsitter van die Nasionale Landbou-unie, wat in Aberdeen ’n spreker by die Internasionale Federasie vir landbou-joernaliste (IFAJ) se jaarkongres was, het gesê boere moet besluit wat die risiko’s en voordele is. Wat die besluit dan uiteindelik ook is, sal hulle daarby moet aanpas en dit bestuur.
Die meeste Skotse landbou-produkte word na Engeland uitgevoer en onafhanklikheid kan implikasies en rompslomp vir uitvoere meebring.
Volgens Times News is subsidies ook ’n belangrike kwessie vir boere. Ingevolge die Europese-Unie (EU) se gemeenskaplike landboubeleid (CAP) kry lidlande se boere subsidies van R3 528/ha. ’n Ja-stem en toegang tot die EU kan dié bedrag vir Skotse boere teen 2019 beteken.
Binne die huidige bedeling kry die VK gemiddeld sowat R4 050/ha. Daarvan kry Skotse boere egter net R2 304/ha terwyl Ierse boere R5 940/ha kry. ’n Nee-stem sal dus beteken Skotland sal harder moet baklei vir ’n groter hap van die koek.
Mnr. Alex Salmond, Skotse eerste-minister wat ook ’n gas van die IFAJ was en ’n groot ondersteuner vir die ja-stem is, glo Skotland sal met ope arms deur die EU verwelkom word. Die land beskik oor 20% van die EU se visbronne, 20% van die EU se hernubare energie-potensiaal en 60% van die EU se olie-reserwes.