Dít is die vraag wat boere vra nadat die regering aangekondig het dat strenger maatreëls vir die uitvoer van skrootmetaal vir ses maande ingestel word. Dié stap is gedoen hoewel die Europese Unie (EU), ’n belangrike handelsvennoot, sy ontevredenheid met dié besluit uitgespreek het.
Die kabinet het gesê hy het maatreëls goedgekeur om die handel in afval en halfverwerkte metale te beperk. Die maatreëls wat deur die departement van handel, nywerheid en mededinging voorgelê is, vorm deel van die regering se stryd om skade aan openbare infrastruktuur te verminder. Die diefstal van metaalinfrastruktuur kos die ekonomie sowat R187 miljard per jaar.
Agri SA steun die besluit om die handel in skroot te beperk. Mnr. Kobus Visser, direkteur van landelike veiligheid by Agri SA, het aan Landbouweekblad gesê hy is optimisties dat die besluit diefstal op plase eindelik kan verminder, maar dat die tydperk wat die verbod van krag is, verleng moet word.