
Nadat die Suider-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SKV) verlede week ’n indaba vir sitruskwekers in Pretoria aangebied het, hoop hy om vandag meer te hoor oor die ingrypings wat by Suid-Afrikaanse hawens ingestel is om die verskeie probleme uit die weg te ruim, wat 130 000 werksgeleenthede in die sitrusbedryf en R30 miljard in jaarlikse uitvoerinkomste bedreig.
Mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die SKV, sê vervoerkoste het die afgelope jaar skerp verhoog. Sommige skeepsrederye het hul pryse met meer as 150% verhoog. Dit beteken dat dit nou dubbeld soveel of selfs meer kos om vrugte te verskeep as wat ’n jaar se produksiekoste is. Daarom is op die indaba besluit dat die sitrusbedryf met die samewerking van ander vrugtebedrywe die moontlikheid ondersoek om beheer oor verskeping te neem en prysstabiliteit te verseker.
Nog ’n groot kwessie is bedryfskwessies weens die hawens se verouderde en onbruikbare toerusting, en personeeltekorte. Die voortdurende produktiwiteitsprobleme by Durbanhawe, wat 60% van Suid-Afrika se sitrusuitvoer hanteer, is vererger deur die onlangse vloede in KwaZulu-Natal. Ten spyte van Transnet en eThekwini-munisipaliteit se pogings om skade aan toegangsroetes spoedig te herstel, het dit steeds die begin van die sitrusseisoen gekniehalter en verskeie kwekers moet hul oes en verpakking uitstel.
Volgens Chadwick sal die sitrusbedryf hierdie seisoen na verwagting meer as 170 kartonhouers uitvoer, wat miljarde in inkomste vir Suid-Afrika sal beteken. “As die huidige kwessies by die hawens egter aanhou om te keer dat sitrus belangrike markte bereik, sal dit ’n ernstige impak op vruggehalte en die kwekers se volhoubaarheid hê.”
Waar daar verlede jaar teen week 18 reeds 3,9 miljoen 15 kg-kartonhouers pomelo’s verskeep is, is vanjaar nog net 2,8 miljoen kartonhouers verskeep. Daarom is dit volgens Chadwick noodsaaklik dat mnr. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, meer inligting gee oor vordering by die hawens, spesifiek die aankoop van bykomende toerusting en die toepassing van nuwe stelsels om opeenhopings te vermy.
Hy sê dit is net so belangrik dat meer inligting gegee word oor samewerking met die private sektor by die Durbanhawe en die beoogde R100 miljard-projek vir die ontwikkeling van infrastruktuur by Durbanhawe wat verlede jaar aangekondig is.
Gordhan beloof hulp
Intussen het Gordhan twaalf nuwe sleepbote, die opknapping van bestaande sleep- en gidsbote en ’n nuwe helikopter is van die maatreëls wat in die nuwe geldjaar vir die Transnet nasionale hawe-owerheid (TNPA) belowe in sy begrotingsrede.
Hy het gesê verbeterings in Suid-Afrikaanse hawens, wat onlangs die swakste ter wêreld gevaar het in ’n internasionale opname, sal op mense, hawetoerusting en prosesse konsentreer om hawebedrywighede doeltreffender te maak.
Gordhan het van die planne uiteengesit wat reeds toegepas word:
• Dat operateurs opgelei word om met meer as een tipe toerusting te werk;
• Die vervanging en opknapping van toerusting;
• Die hersiening van aansporingskemas; en• Verdere verbetering van personeelbeplanning.Gordhan het die korporatisering van die hawe-owerheid as een van Transnet se suksesse bestempel, saam met die aankoop van nuwe hawetoerusting om vraghouers mee te verskuif.
Dieseldiefstal
Gordhan het die voortdurende diefstal uit Transnet se brandstofpyplyne betreur, en dit beskryf as “net so nadelig soos dieseldiefstal, omdat hierdie voorvalle die bedrywighede van die nuwe multiproduk-pyplyn nadelig beïnvloed en dus Transnet Pyplyne (TPL) se vermoë om brandstofsekerheid te verseker, ondermyn”.
Hy het ook verwys na die erge omgewingskade wat die diefstal veroorsaak. Van die maatreëls wat TPL volgens hom toepas om sulke voorvalle te verminder is ’n korter reaksietyd ná sulke voorvalle, en om die volumes wat in die pyplyne vervoer word, te wissel na gelang van die vraag. Daarmee saam is beter sekerheidsmaatreëls ook toegepas om brandstofdiefstal en die verwante omgewingsrehabilitasiekoste te verminder.