
“Die inperking en sluiting van restaurante en voedseldienste het enorme verskuiwings in verbruikersbehoeftes veroorsaak. Dit het tot ’n ooraanbod van sekere vars produkte, soos blaarslaai en avokado’s, gelei,” het mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou, tydens ’n webinaar deur die varsproduktebemarkingsliggaam (PMA) gesê.
Boere kon van die ooraanbod avokado’s uitvoer. Blaarslaai, waarvan die raklewe kort is, moes egter ingeploeg word.
“Slaaipryse het gedaal weens die ooraanbod en beperkte vraag. Die pryse van sekere avokadokultivars het ook redelik gedaal as gevolg van die ooraanbod, maar die uitvoerpryse het darem bestendig gebly.”
Maree meen die nuwe regulasies onder vlak 3, wat op 1 Junie in werking tree, sal tot ’n beperkte mate help om die oorproduksie weg te werk.
“Dit gaan egter nie oornag gebeur nie. Verbruikers is onder druk en hul manier van aankope, asook die produkte wat hulle koop, het en gaan verander. Wegneemetes sal nog gebeur, maar ek meen dit gaan minder wees as voorheen, bloot omdat mense se besteebare inkomste onder groot druk is.”
Goedkoper proteïen
Hy sê die pap ekonomie het verbruikers al voor Covid-19 gedwing om goedkoper proteïenbronne te verkies. Steak en tjops moes opsy staan vir maalvleis en goedkoper vleissnitte.
“Hoender- en varkvleis presteer nog betreklik goed. Eiers ook, waarskynlik vanweë die bakgier wat huishoudings getref het.”
Oor die komende maande sal verbruikers toenemend wegbeweeg van luukshede. Produsente moet ingelig wees oor markneigings en verbruikersgedrag verstaan om in hul behoeftes te voldoen, het Maree gesê. Hy het boere byvoorbeeld aangeraai om verskillende graderings van vars produkte te bemark.
“Verbruikers wat voorheen keurgraadprodukte gekoop het, het dalk na tweedegraadse produkte oorgeskakel het sodat hulle meer geld het om ander noodsaaklikhede te koop.”
Suid-Afrika is ’n netto uitvoerder van vars produkte. Beskikbaarheid is daarom nie ’n probleem nie, glo Maree.
“Ons verwag boonop ’n goeie sitrusoes. Ons voorsien dus nie dat vars produkte se pryse baie sal styg nie.”
Digitale kloof
Maree het wel gesê die verskaffings- en verspreidingsnetwerk kan onder druk kom wat beskikbaarheid en bekostigbaarheid betref.
Oor die digitale transformasie wat tans uitspeel, het hy gesê: “Aanlyn aankope is nie ’n onmiddellike alternatief nie, want die digitale kloof tussen stedelike en landelike infrastruktuur is nog te groot, met internettoegang in landelike gebiede wat betreklik swak is.”
Namate die inperkingsregulasies opgehef word, gaan verstandige sakeplanne en sterk bestuursvaardighede belangrik wees.
“Diversifikasie is noodsaaklik. Oorweeg beleggings buite die plaas as deel van jou langtermynplanne. Hou ook jou finansieringsvennoot ingelig oor wat in jou besigheid aangaan. As iets gebeur, kan jou finansier strategies wees en planne maak voor ’n krisis ontstaan.”
Landbouweekblad is steeds beskikbaar op winkelrakke, terwyl sake by https://t.co/J5CsarOmv3 en @landbouweekliks vlot verloop. Lees hier wat jou te doen staan indien jy sukkel om die tydskrif in die hande te kry én hoe jy digitaal kan lees. https://t.co/Ug6tJEMNfl
— landbou.com (@landbou) May 12, 2020