
Die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) sê in ’n inligtingstuk oor die landbou-ekonomie dat 60 316 beeste geslag is. Dit was 2,3% meer as in 2018.
Die slagsyfer van skape het met 468 964 (10,7%) gestyg en dié van varke met 240 331 (8%).
Die buro sê hoewel Statistieke SA se jongste syfers wys dat die bruto binnelandse produk (BBP) van die landbou-ekonomie in die vierde kwartaal van 2019 met 7,6% ingekrimp het, het die landbou-BBP gegroei as dié kwartaal met die ooreenstemmende kwartaal in 2018 vergelyk word. Vir só ’n vergelyking op ’n jaargrondslag is ’n seisoenale aanpassing onnodig.
Statistieke SA kyk na alle sektore van die ekonomie en spesifiek na seisoenaal aangepaste, geannualiseerde veranderinge van een kwartaal na die volgende.
In die landbou is daar egter verskillende subsektore wat op verskillende tye hul produkte lewer. Deur eerder na die bruto waarde van produksie (BWP) per bedryf te kyk, soos saamgestel deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, kry ’n mens volgens die BFAP ’n beter aanduiding van wat die landbou-ekonomie se prestasie aandryf.
Groei
Die BWP van diereprodukte was in die vierde kwartaal van 2019 10% hoër as in die vierde kwartaal van 2018.
Die beesbedryf was die grootste bydraer en het met 12% gegroei. Die styging in produksievolume het meer as vergoed vir die daling in produsentepryse wat in alle rooivleisbedrywe sigbaar was. Die uitbreking van bek-en-klouseer het bykomende druk op beespryse geplaas. Daarteenoor was hoenderpryse in die vierde kwartaal van 2019 5% hoër as in die ooreenstemmende kwartaal in 2018.
Hoewel die vraag na rooivleis gewoonlik in die feestyd styg, was verbruikersbesteding onder druk. Pryse was hoog weens Afrika-varkpes in China en die gevolglike sterk wêreldpryse. ’n Groter aanbod het die tipiese seisoenale styging ietwat beperk.
Die BWP van tuinbou was ook in die vierde kwartaal van 2019 hoër as in dieselfde kwartaal van 2018, naamlik 9%.
Sagtevrugte se BWP het met 9% gestyg en groente s’n met 6%.
In die uitvoergeoriënteerde sagtevrugtebedryf het die swakker rand pryse ondersteun, maar meer druiwe en steenvrugte is uitgevoer.
Minder koring en gars
Die BWP van veldgewasse was in die vierde kwartaal van 2019 7% laer as in die ooreenstemmende kwartaal in 2018.
Koring en gars se BWP het met onderskeidelik 13% en 29% gedaal.
Die totale koringoes van 2019 gaan na verwagting 367 000 ton kleiner wees as in 2018. Ondanks ’n styging van 2% in die prys, danksy die swakker rand, het ’n afname in volume die afname in produksiewaarde aangedryf.
Herstel
Die BFAP verwag dat die landbou-BBP vanjaar beduidend gaan herstel.
Gunstige klimaatstoestande, veral in die weste, sal waarskynlik die mielie-oes oor 15 miljoen ton stoot en ondanks laer pryse sal die BWP van die mielie-oes na verwagting meer as 10% hoër as in 2019 wees.
Die BWP vir sojabone en sonneblomme sal ook na verwagting met onderskeidelik 35% en 15% styg, sê die BFAP in die dokument.