Die Britse popgroep Smokie – wat Vrydag (1 April) in Suid-Afrika aangeland het om ’n nuwe album vry te stel – geniet deesdae net Suid-Afrikaanse wyne op hul talle wêreldtoere.
Dié groep, bekend vir treffers soos Living next door to Alice en Don’t play your rock and roll to me, was in 2008 ook in Suid-Afrika en is toe tot Suid-Afrikaanse rooiwyn bekeer.
Mnr. Bennie Howard, woordvoerder van Meerendal, sê Smokie het hul gewoonte om vir Australiese Shiraz te vra verander en toer-organiseerders moet nou bontstaan om oral Suid-Afrikaanse wyn te koop.
Meerendal-wyn sal vir dié toer by al Smokie se etes en partytjies bedien word.
“Die groep sal ook op die Meerendal-wynlandgoed in Durbanville onthaal word op ’n kelderbesoek, wynproe en ’n egte tradisionele middagete,” vertel Howard.
Daarmee saam word Meerendal Heritage Block Pinotage en Meerendal Bin 159 Shiraz bedien. Albei kultivars word al langer as 40 jaar deur Meerendal bemark.
Smokie tree op Sondag (3 April) op die ABSA KKNK-kunstefees op Oudtshoorn op. Landbouweekblad is vanjaar vir die eerste keer op die fees, so skud jou feesvere reg en kom maak ’n draai by ons kraampie.
3 April 2011