
“Ons gaan waarskynlik in November ’n skerp styging in die dieselprys sien," sê mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou.
“Petrol gaan ook waarskynlik duurder wees. Dit is nie goeie nuus vir die landbousektor nie, want dis nou die plantseisoen van somergewasse. Produsente se direkte dieselkoste styg onmiddellik wanneer prysverhogings van brandstof ingestel word.”
Die prys van diesel kan met tot R1,60 per liter verhoog en dié van petrol met 41 sent tot 51 sent per liter, volgens die AA.
Maree sê die onderverhaling op diesel was einde verlede week selfs meer as R2 per liter. “Die gemiddelde onderverhaling op diesel tot Vrydag was R1,83 per liter en dít is nie goeie nuus nie.”
Hy sê winsgewendheid in die landbousektor, veral graan, gaan dus onder druk geplaas word.
Internasionale pryse
Dié verwagte stygings in diesel- en petrolpryse is weens hoër as gemiddelde internasionale oliepryse en tot ’n mindere mate die swakker rand.
Volgens Maree is die grootste rede vir die verwagte styging die besluit van die Organisasie vir Petroleumuitvoerland (Opul) om hul produksie te verminder en só die Brent-ruolieprys te verhoog.
“Ekonomiese groeisyfers uit China lyk belowend en dit verhoog ook die vraag na olie.”
Hy sê die wisselvalligheid van die wisselkoers speel in ’n minder mate ’n rol in die onderverhaling.
Pryse sal in elk geval styg
Die AA sê hoewel hierdie syfers voorlopig is en kan verander, sal pryse in elk geval waarskynlik in November styg.
“Die uitwerking op die man op straat gaan beduidend wees,” waarsku die AA. “Diesel is ’n aansienlike insetkoste vir baie sektore en ’n styging in die prys gaan uiteindelik verbruikers seermaak wanneer vervaardigers die stygings begin inreken.”
Maree waarsku ook oor die impak van die stygings op verbruikers, wat onder meer tot hoër inflasie kan lei. “Dít is nie goed vir die rentekoers nie. Ons hoop nie die stygings duur te lank voort nie, maar baie sal afhang van oliepryse wat in hierdie stadium ’n groot aandrywer agter die stygende brandstofpryse is.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.