
Die organisasie meen die mense wat veronderstel is om die meeste by die minimum loon baat te vind, kan juis dié wees wat die swaarste ly wanneer boere genoop word om mense af te dank. Hy wys daarop dat die huidige politieke en ekonomiese omstandighede ongunstig is vir ekonomiese vooruitgang.
Agri SA het insette gelewer tydens die Parlement se openbare sittings rakende arbeidswetgewing, insluitend die minimum loon.
Om die landbou te buffer en werksverliese te voorkom, het die Regering reeds gesê die minimum loon sal aanvanklik R18 per uur wees en nie die verpligte R20 per uur of R3 150 per maand nie. Dié loon sal oor ’n tydperk van twee jaar ingestel word.
Agri SA meen egter die landbou moet meer tyd gegun word gegewe die huidige ekonomiese omstandighede en die droogte wat boere teister.
Uitstel
Me. Jahni de Villiers, hoof van arbeid en ontwikkeling by Agri SA, sê in die voorlegging Agri SA stel voor dat die nasionale minimum loon oor ’n tydperk van drie jaar ingefaseer word. Die organisasie vra ook dat die kommissie vir die nasionale minimum loon spesiale aandag aan die landbou se probleme moet gee.
Die huidige sektorale vasstelling vir die landbou is R16,25 per uur. Dit is 81,25% van die voorgestelde minimum loon van R20 per uur. Indien lone in 2019 weer met sowat 6% verhoog sou word, sou die sektorale vasstelling R17,23 per uur gewees het (86% van die voorgestelde nasionale minimum loon). Die sektorale vasstelling is dus nie ver van die voorgestelde minimumloon nie, sê De Villiers.
Gegewe die Wes-Kaap se baie arbeidsintensiewe landbousektor en die waterkrisis weens die droogte is die tydsberekening vir die instelling van die loon nie na wense nie.
Die aanvanklike impakstudie het getoon dat die instelling van die loon 205 000 tot 897 000 werksverliese tot gevolg kan hê.
De Villiers het benadruk dat lede van Agri SA daartoe verbind is om aan wetgewing te voldoen. Indien die minimum loon môre wet word, sal sy lede gehoor gee daaraan.
Mnr. Pebane Moteka, EFF-LP, het gesê daar is sedert 1994 genoeg tyd gegee. Volgens hom woon en werk plaaswerkers in haglike omstandighede, terwyl hul werkgewers in groot, luukse huise bly.
Kwytskelding
In die verlede het daar baie verwarring bestaan oor wat die vereistes is om vir kwytskelding in aanmerking te kom. De Villiers sê ’n regulasie is nodig wat ’n tydraamwerk vir aansoeke spesifiseer, sowel as die tydperk vir terugvoer. Daar moet ook gespesifiseer word dat aanvaar kan word dat kwytskelding toegestaan is indien die landbouer geen terugvoer oor sy aansoek ontvang nie.
Die regulasies moet ook inligting oor aansporingskemas insluit om ondernemings by te staan om die minimum loon te betaal.
Vererger werkloosheid
Mnr. Zwelinzima Vavi, sekretaris-generaal van die vakbond Saftu, reken die wetgewing sal werkloosheid in die land vererger. Hy het gesê die eintlike probleem is dat die Regering bang is om die ekonomiese struktuur van die land, wat op veral die mynbou en chemikalieë gesentreer is, te verander. Suid-Afrika moes lankal die industrialiseringsroete gevolg het om ontslae te raak van die goedkoop arbeid vir myne en plase wat deur die apartheidstelsel geskep is.
Hy het gesê solank 50% van werkers R3 500 verdien, sal 50% van die werkmag buite die ekonomie staan. Nog te veel mense kan nie aan die ekonomie deelneem nie, en dié wetgewing sal die status quo behou, volgens hom.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.