Kersieboere beleef tans ‘n slegte oesjaar met oeste wat plek-plek tot 90% kleiner is as gewoonlik, sê die SA Kersievereniging (SAKV).
Mnr. Koos Pretorius, voorsitter, sê die oes kan aan swak weerstoestande tydens bestuiwing toegeskryf word. “Ons het koue gehad wat die bloeisels vroeg in Augustus seergemaak het, terwyl geweldige winde en hitte verdere skade in September gedoen het,” vertel Pretorius.
Skade nog nie bepaal
Pretorius sê die totale skade wat boere lei kon nog nie vasgestel word nie, aangesien sommige oeste nog aan die bome is. “Die laaste kersies word vroeg in Januarie in die Wes-Kaap ge-oes.”
Hy verwag dat die swak oes ‘n invloed op boere se inkomste asook op uitvoere sal hê. Kersies word meestal in die Oos- en Wes-Kaap asook in die Oos-Vrystaat verbou.
Goeie gehalte
Intussen sê me. Natalie Meyer, ‘n kersieboer van die Clarens-omgewing, die kleiner oes tel tot ‘n mate in haar guns. “Hoewel die oes 50% minder is as die van verlede jaar, kan ek vanjaar 75% daarvan verkoop. Die kleiner oes het goeie gehalte kersies tot gevolg. Nasionaal verdien sommige produsente tot drie keer meer as verlede jaar. Ek gaan uit hierdie jaar se oes ‘n groter inkomste maak as verlede jaar.”
Nie goeie jaar vir kernvrugte
Intussen dui die Nasionale Landboubemarkingsraad se jongste verslag oor vrugtehandelvloei aan dat die jaar nie ‘n goeie jaar vir die kernvrugtebedryf (appels en pere) was nie. Slegte weerstoestande in die Wes-Kaap het gelei tot ‘n daling in die produksie van appels. Derhalwe is 12,5% minder appels as verlede jaar uitgevoer.
Die mark moes ook met ‘n ooraanbod op die internasionale mark meeding, aangesien lande in Europa relatiewe groot oeste gehad het wat met die Suidelike Halfrond se oestye oorvleuel het.
Die peermark het geen groei ten opsigte van uitvoere aangeteken nie, hoewel noord Europa en Brittanje weer eens sowat 70% van die oes geabsorbeer het.
Plaaslik is goeie pryse vir 2010 aangeteken – ‘n styging van R3 284 per ton in Februarie tot R4 588 per ton in September.
6 Desember 2010