Slenkdalkoors kom nou moontlik in Gauteng ook voor met die provinsiale veeartsenydienste wat wag op toetsuitslae nadat diere dié week in die Bronkhorstspruit-omgewing vir die virus getoets is.
Me. Noncedo Vutula, woordvoerder vir die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, sê die uitslae van dié toetse word Maandag (24 Januarie) verwag.
Intussen is nog ‘n voorval van Slenkdalkoors op Wellington in die Wes-Kaap bevestig. Vutula sê 13 diere op ‘n plaas in dié distrik is met die siekte gediagnoseer. ‘n Voorval van slenkdalkoors is ook vroeër die week in Mosselbaai bevestig.
Gereedheidsgrondslag
Vutula sê al die provinsies se veeartsenydienste is reeds op ‘n gereedheidsgrondslag geplaas aangesien die siekte weer uitgebreek het. Sy sê die weersomstandighede wat tans voorkom, asook die oorstromings, skep ‘n gunstige klimaat vir die verspreiding van die siekte, wat deur muskiete van dier na dier oorgedra word.
Die virus kan ook na mense oorgedra word sou hulle met die karkas of liggaamvloeistowwe van ‘n dier wat daaraan gevrek of gely het, in aanraking kom. Verlede jaar het 8 500 diere aan die siekte gevrek, terwyl 26 mense omgekom het.
Intussen is Onderstepoort Biologiese Dienste (OBP) ook op ‘n gereedheidsgrondslag, en mnr. Willie Botha, ‘n woordvoerder vir OBP, sê hulle het vanjaar genoeg voorraad van die dooie en lewendige entstof, asook die nuwe entstof vir dié siekte – genaamd Chloon 13.
21 Januarie 2011