Kliniese simptome tydens die onlangse uitbrekings van slenkdalkoors in die land is beslis beïnvloed deur ander infeksies, soos bloutong en brucella, het dr. Daan Goosen, ’n veearts van Letaba, op die kongres van die Veegesondheid- en Produksiegroep (VGPG) van die SA Veterinêre Vereniging op Stellenbosch gesê.
Dit het gelei tot foutiewe diagnoses, verkeerde beskuldigings dat entstowwe ondoeltreffend is en selfs tot “wilde stellings” dat die entstowwe eintlik self slenkdalkoors veroorsaak.
Uit sy eie ondersoeke blyk dit dat klimatologiese toestande en boerderypraktyke dikwels groot uitdagings bied om vektor-oorgedraagde siektes – soos slenkdalkoors – die hoof te bied, veral in die meer sentrale dele van Suid-Afrika. Vir ’n entstof om doeltreffend te wees, is die produksie van genoeg teenliggaampies nodig om weerstand teen die virus te bied.
Nie juis doeltreffend
Smithburne- en Kloon 13-entstof produseer wel genoeg teenliggaampies in ’n dier om beskerming teen slenkdalkoors te bied, het hy gesê. Tog is teenliggaampies wat deur die twee entstowwe geproduseer word, nie juis doeltreffend teen sommige virusse nie. Dit kan wees dat dit nie genoeg beskerming bied in gebiede waar uitbrekings besonder erg was nie.
Goosen sê nóg ’n faktor wat die doeltreffendheid van die entstowwe kon beïnvloed, was dat dit dalk nie tydens die optimumtyd toegedien is om die beste beskerming te bied nie.
Dit kan ook toege skryf word aan probleme met lewende entstof, ’n tekort aan entstof en aan sekere boerderypraktyke.
Hy sê die uitbreking van slenkdalkoors is ingewikkeld en baie vrae hang nog in die lug, maar tans is daar nie alternatiewe vir bestaande entstowwe nie. Sy aanbeveling is dat boere betyds inent en doeltreffende en veilige entstof gebruik wat die jongste stamme van die virus bevat.
27 Maart 2012