
Nie net kan die landbou dien as ekonomiese dryfveer om armoedeverligting te bring nie, maar ’n sterk landboubedryf kan ook nasiebou versterk.
Landbou.com het georganiseerde landbou-organisasies genader om te hoor wat hulle van die inkomende regering verwag.
TLU SA
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê die organisasie reken dit is lankal tyd dat die regering besef die landbou is ’n bedryf wat deur ekonomiese beginsels aangedryf word. Politieke inmenging gegrond op ideologie wat elders misluk het, bring nie ekonomiese groei en stabiliteit nie.
“Ons land se armoede en werkloosheid kan net volhoubaar aangepak word as daar ’n veilige omgewing is waar beleggers graag sal wil belê. Die huidige benadering maak die probleem net groter en stel dit uit om by oplossings uit te kom.”
Hy sê die organisasie hoop die nuwe regering konsentreer op die regte beginsels en die benutting van die beste kundigheid. “Kunsmatige” bemagtigingsprojekte moet laat vaar word en ’n klimaat moet eerder geskep word waarbinne almal die verantwoordelikheid aanvaar om hulself te bemagtig én die geleentheid daarvoor het. Private eiendomsreg en die vrye mark behoort ondersteun te word. “Uitsprake en wetgewing moet vertroue inboesem, juis by die mense wat die ekonomie kan omdraai na positiewe groei.”
’n Regering moet in alles wat hy doen, die land en al sy mense te dien. Hy moet nie net probeer om ’n politieke party te red nie, sê Van Zyl.
Agri SA
Mnr. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê hoe die volgende parlement ook al saamgestel gaan word, is dit belangrik om te konsentreer op die kernaspekte van die ontwikkeling van die land, waaronder landbou-ontwikkeling ’n voorrangsaak moet wees.
Daar moet doeltreffende finansiering wees wat deur die private sektor en die staat gebalanseer kan word in die vorm van ’n ontwikkelingsfonds. Grondeienaarskap van opkomende boere moet aangepak word en beleidsonsekerheid, wat in die lug hang rakende die onteiening van grond sonder vergoeding, sal eens en vir altyd verwyder moet word, want die landbousektor gaan nie investeer met al die onsekerheid wat hy tans ondervind nie.
Die staat moet drasties verbeter ten opsigte van sy dienslewering aan die landbousektor, openbare werke, misdaadbestryding en ander faktore wat die bedryf raak. Daar word ook gehoop dat sterk leiers aangestel sal word om die verskillende departemente te bestuur en dat konsolidasies sal plaasvind.
Van Zyl sê dit is baie belangrik dat Eskom ontbondel en die res van die staatsbeheerde instellings reggeruk moet word. Onafhanklike kragvoorsieners moet betrek word. Die landbou het reeds ’n oplossing van son- en windkrag vir Eskom wat aan die nasionale energiereguleerder (Nersa) voorgestel sal word.
“Dis ontsettend belangrik dat ons belegging in die land kry wat ekonomiese groei aandryf, en die landbou is ideaal geposisioneer om dit te doen.
“Die sektor is ’n inklusiewe, deelnemende bedryf wat met rasse skrede kan vorentoe gaan as ons die regte stappe doen om die landbou te laat groei,” sê hy.
NAFU
Mnr. Motsepe Matlala, voorsitter van die National African Farmers’ Union (Nafu), sê hoewel hy die siening van politieke partye soos die ANC, VF Plus, die IVP en die DA rakende veral die landbou respekteer, is daar nie een party wat duidelik na vore kom met ’n regverdige en volhoubare landboumodel en oplossing vir die grondkwessie, wat stabiliteit aan die boerderygemeenskap sal bring nie.
“Tog meen ek die landbou is veilig as die ANC wen.” Hy meen die party het sy tekortkominge onder die leierskap van pres. Cyril Ramaphosa geïdentifiseer en is gereed om die departemente, insluitende die departement van landbou, te herposisioneer sodat ekonomiese vooruitgang bewerkstellig kan word, veral omdat Ramaphosa ook ’n boer is.
Die landbousektor is nie so mededingend soos dit moet wees nie. ’n Paradigmaskuif en ’n billike, inklusiewe benadering sal moet kom. “Ek meen die ANC kan dit vermag.” Die groot prys sal wees as ’n sterk, kundige minister van landbou ontplooi word, wat vertroud is met boerderybesigheidspraktyke in die konteks van Suid-Afrika en die wêreld.
Dié persoon moet verstaan dat die landbou in geheel aangedryf word deur wetenskap en die mark, en nie deur politiek nie, sê Matlala.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.