
Basjan is sy naam – die “gewone” springbok-ram wat deur Johan Viljoen, springbok-teler van Richmond in die Karoo, vir 'n asembenemende R1,2 miljoen verkoop is.
Dit was maar een van die horde rekordpryse wat Woensdag (30 Julie) op die derde jaarlikse 3G-wildveiling by Jan Kempdorp in die Noord-Kaap gespat het, en die land aan die gons het. (Lees die veilingsverslag in die aanhangsel hieronder.)
Diere wat op dié veiling aangebied word, is almal gekeur met bewese rekords, waaronder genetiese ouerskap-inligting wat met DNS-toetse bevestig is. Basjan is 'n drie jaar oue Kalahari-ram met 'n horinglengte van 18 en twee-agtstes duim, 'n horingbasis van 6 en 'n half duim, en 'n afstand van 9 en 'n half duim van horingpunt tot -punt.
Ruan Faber van Jacobsdal het hom gekoop. Mnr. Aitjie van Wyk van Matopi-boerdery, boer en professionele wildvanger van die Hartsvallei, het die 3G-veiling drie jaar gelede begin nadat hy bekommerd geraak het dat die room van Suid-Afrika se teel-wild net soos in die res van Afrika deur trofeejagters uitgeskiet word.
Klik net op die foto's van Basjan in die galery om dit te vergroot. Foto's: Verskaf