
Produsente moet byvoorbeeld besproeiingskedules aanpas om beurtkrag te systap, elektroniese toerusting soos rekenaars, pompe en yskaste word beskadig en boere stoei met onderbrekings om dierevoer te maal en meng.
Agri SA het verskeie sektore in die landboubedryf se daaglikse stryd en probleme tydens beurtkrag uitgelig.
Toerisme en diesel
Beurtkag het ’n nadelige impak op wynproe-lokale, restaurante en ander strome van inkomste uit toerisme.
Baie produsente het kapitaal bestee om kragopwekkers aan te skaf, maar met die dieselprys wat aanhou styg, raak selfs hierdie beleggings ’n groot kopseer.
Die pluimveebedryf
Die werksaamhede wat dit bemoeilik in die pluimveebedryf sluit in:
- Die slag en verwerking van hoenders.
- Die verkoeling van dakke van geboue waarin pluimvee aangehou word, want dit moet met water bespuit word om die diere koel te hou.
- Die voer van diere.
- Produsente sukkel om hokke skoon te hou.
- ’n Verlies aan eierproduksie weens onderbrekings in beligting.
- Die uitbroei van kuikens.
- Onderbrekings om geboue te verhit of te verkoel.
Tafeldruiwe
Die werksaamhede wat dit bemoeilik in vir die tafeldruifbedryf sluit in:
- Die tafeldruifbedryf se hoogseisoen is om die draai wanneer dit in Desember en Januarie ’n hoogtepunt bereik. Met 90% van die bedryf se druiwe wat uitgevoer word, kan beurtkrag ’n enorme impak op bedrywighede hê.
- Spesifieke fitosanitêre vereistes geld vir uitvoerdruiwe en enige onderbrekings in verkoelingstydperke kan enorme gevolge vir die uitvoerbedryf beteken. Volgens Agri SA is die bruto waarde van produkte op plaasvlak wat nou in gevaar is weens beurtkrag ongeveer R6 miljard.
Lewende hawe
Die werksaamhede wat dit bemoeilik in die lewendehawebedryf sluit in:
- Voer en water gee raak problematies en affekteer diere se welstand.
- Elektriese heinings wat buite werking is tydens beurtkrag, terwyl dit wilde diere moet uithou en diere moet inhou, skep gevare.
- Vertragings in die verwerking van vleis raak gehalte en produksie.
- Melkproduksie gaan verlore omdat produsente nie koeie kan melk of die melk nie teen die regte temperature kan verkoel nie.
- Weivelde wat besproei moet word, kry swaar en verswak weens te min water.
- Verlies aan jong diere, soos varkies as hulle nie voldoende warm gehou kan word nie.
Groente, vrugte en neute
Die werksaamhede wat dit bemoeilik in die groente-, vrugte- en neutbedryf sluit in:
- Probleme om produkte teen regte temperature op te berg veroorsaak laer kwaliteit en produksie.
- Vertragings in verpakking en verwerking vind plaas.
- Besproeiing, hidroponika en kweekhuise se doeltreffendheid word geraak.
Wyn- en sapbedryf
Die werksaamhede wat dit bemoeilik in die wyn- en sapbedryf sluit in:
- Druiwesap moet onder 0 °C verkoel gehou word.
- Probleme met bottelering.
- Vertragings in skedules om onkruid en plae te bestry.
- Die wynbedryf maak staat op verskillende stadiums van wynproduksie en kan nie fluktuasies in elektrisiteitsvoorsiening duld of absorbeer nie. Selfs met fase 2- en fase 3-beurtkrag raak dit riskant om ’n gehalteproduk te lewer.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.