Die nuwe AgriSEB-kode behels, soos vantevore,’n klomp vlakke, elemente, persentasies en punte wat ’n mens se kop laat draai, maar in die ontrafeling daarvan staan ’n paar kwessies uit.
Die eerste is dat boerderye of ondernemings met ’n omset van minder as R10 miljoen en minder as 51% swart aandeelhouding outomaties erken word as ’n sogenoemde vlak vier-onderneming, oftewel 100% erkenning van voldoening, sê mnr. Melcus Nel. Nel is ’n kenner van strategie en SEB-vereistes, direkteur van die Signa-groep, en dien saam met dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, namens dié organisasie in die AgriSEB-handvesraad waar die kode beding is.
Die sertifikate wat ’n mens vir SEB-nakoming kry, word in agt vlakke uitgereik. Vlak een is die hoogste (135% erkenning) en vlak agt die minimum (10% erkenning). Nel sê die persentasie swart eienaarskap en swart vroue-eienaarskap speel ’n belangrike rol.