
Boere en hul gesinne ontvang in dié tyd dikwels ook besoekers, en die veiligheid van jou familie, besoekers en werkers moet ’n hoofprioriteit bly.
“Plaasveiligheid is baie groter as net ’n enkele organisasie of gemeenskap. Ons kan mekaar beter beskerm deur saam te werk,” sê mnr. Wahl Bartmann, uitvoerende hoof van die Fidelity-sekuriteitsgroep.
Dié maatskappy staan die afgelope drie jaar in vennootskap met Agri SA om landelike veiligheid reg oor Suid-Afrika te bevorder en landbouverwante misdade hok te slaan.
“Misdaad op plase het ’n enorme impak op die stabiliteit van die ekonomie en op die voedselproduksiestelsel. Die afgelope kwartaal se misdaadsyfers wat onlangs bekend gemaak is, dui daarop dat misdaad op ’n plaas elkeen raak. Dit het ’n wyer impak as wat die meeste mense besef.”
Luidens ’n verklaring verduidelik Bartmann watter vier stappe boere kan doen om veiligheidsmaatreëls op plase te verbeter:
- Sluit by die plaaslike plaaswag of sekuriteitsfirma aan wat in jou area werksaam is. Stel hulle in kennis wanneer jy beoog om vir ’n paar dae in Desember weg te wees. Maak seker hulle weet wie jy aangestel het om vir jou in te staan en dat hulle die korrekte kontakbesonderhede het.
- Beveilig die hoofhuis met ’n behoorlike heining en ligte. Maak seker die gebied rondom die huis is vry van struike, bome of plantegroei wat skuiling kan bied.
- Toets jou sekuriteitstelsel om seker te maak dit werk. As jy buitebalke of sensors het, maak seker dat hulle beweging optel.
- Maak seker dat jy presies weet wie op jou eiendom gaan wees terwyl jy weg is, en dat die persoon wat jou eiendom namens jou gaan bestuur, jou beste belange op die hart dra. Maak ook seker dat almal wat daar gaan wees, weet wat om te doen en hoe om te reageer as misdaad gepleeg word.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.