
Mnr. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het selfs so ver gegaan om Woensdag op ’n mediakonferensie te sê mense wat hulle aan kabeldiefstal skuldig maak, moet van hoogverraad aangekla word.
Misdadigers steel openbare infrastruktuur soos kragkabels en herverkoop of voer dit uit as skrootmetaal. Só verloor die Suid-Afrikaanse ekonomie jaarliks R47 miljard en ly Eskom en Transnet se bedrywighede ook hieronder, volgens ’n verklaring deur die departement van handel, nywerheid en mededinging.
Volgens Gordhan het kabeldiefstal in 2021 tot ’n verlies van R2 miljard vir Transnet gelei het en ongeveer 742 km van Eskom se kabels is oor die tydperk gesteel.
Mnre. Bheki Cele, minister van polisie, Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, en Mondli Gungubele, minister in die presidensie, was ook deel van die konferensie.
Aanvanklik sal die verbod op die uitvoer van koper en ysterhoudende metale soos allooi en gietyster vir ses maande duur, maar hierna sal regulasies en maatreëls geld vir die handel in sekere metale, soos koper.
Die landbousektor het egter reeds voorheen aan Landbouweekblad gesê die verbod gaan nie veel verligting vir boere bring nie.
Só lyk die nuwe regulasies
Die departement van handel, nywerheid en mededinging het 2 800 stukke kommentaar oor die voorgestelde beleid ontvang, onder meer van belanghebbeners in die metaal- en mynsektor.
Die maatreëls is op 16 November deur die parlement goedgekeur en die toepassing van die regering se finale beleid hieroor sal oor drie fases geskied.
Dit moet egter nog in die Staatskoerant afgekondig word voordat dit toegepas kan word.
“Hoewel die maatreëls ’n impak gaan hê op die kommersiële vertoning van dele van die skrootmetaalbedryf, moes die regering ferm optree teen die toenemende plaag van diefstal in metale reg oor Suid-Afrika,” luidens die verklaring.
“In sommige gebiede het kommentaar van die publiek en belanghebbende partye die regering egter oortuig dat die voorgestelde ingrypings aangepas moet word om onbedoelde gevolge waar moontlik te verminder, insluitend ontwrigting van wettige uitvoerders en moontlike ondermyning van afvalverwyderaars se lewensbestaan.”
Die tweede fase behels die bekendstelling van ’n stelsel waarvolgens lisensies nodig sal wees om met koper handel te dryf.
Geregistreerde kopers van koper en skrootmetaal sal moontlik ook slegs toegelaat word om by geregistreerde verkopers te koop. Dit beteken die toevallige verkope van koperafval, skroot en halfvoltooide produkte sal nie kan plaasvind nie.
Kontanttransaksies by die verkope van skrootmateriaal gaan heel moontlik ook nie meer geduld verkoop word nie en bewyse van waar die skrootmetaal bekom is en aan wie dit verkoop is, sal ook nodig word.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.