
Mnr. Jaco Burger (34), ’n skaapboer van Wepener, is pas as Vrystaat Landbou se Jongboer van die Jaar vir 2022 aangewys. Dié eerbewys bring ’n soete einde aan ’n somerseisoen wat vir Jaco en sy vrou, Marlize, rampspoedig begin het toe sowat 90% van hul weiveld in September 2012 in ’n reuse-veldbrand afgebrand het. Sy Dohne-Merino-stoetery, J.L Trinity, was byna in gedrang en die vlamme het tot sowat 17 m van hul woning af gevorder en dakhoogte gebrand.
Passie vir sy boerdery en diere, toewyding en goeie verhoudings met sy werknemers en medeboere is waarop Burger se boerdery geskoei is. Hy boer reeds die afgelope 13 jaar in die distrik, waarvan vier jaar op sy plaas Eureka langs die Lesotho-grens. Burger se stoetery is in 2017 geregistreer.
Die verbetering en toeganklikheid van KI-tegnologie het vir sy stoetery heelwat nuwe geleenthede geskep om teelmateriaal te verbeter en aan kommersiële boere te verkoop. “My kliënte hoef nie meer ’n ram aan te hou nie en is dus bereid om meer te betaal vir uitstekende teelmateriaal.”
Jaco en sy vrou, Marlize, glo daarin om ’n werksomgewing te skep waar hul werknemers bemagtig word om hul volle potensiaal te bereik. Oop kommunikasiekanale en respek vir mekaar is volgens hom die kernfaktor. Dit is ook vir hom belangrik om sy medeboere by te staan om hul sukses in die lewering van voedsel van goeie gehalte op volhoubare manier te verseker.
Benewens sy betrokkenheid by die georganiseerde landbou as lid van die Wepener-boerevereniging, is Jaco ook lid van die brandvereniging en hy neem gereeld aan die wit- of bloulig-patrollies saam met die SA Polisiediens deel. Omdat sy plaas aan die Lesotho-grens lê, is veiligheid ’n enorme probleem, maar verbeterde tegnologie help hom om sy kudde teen diefstal te verseker.
Jaco stap onder meer weg met ’n kontantprys van Vrystaat Landbou en geskenkbewyse van Kynoch, Brand New SA en Work Accident Support. Hy dring ook deur na die Toyota SA en Agri SA Jongboer van die Jaar-kompetisie.
Volgens prof. Pieter Fourie, sameroeper van die beoordelaars en hoof van die departement van landbou aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), word finaliste beoordeel in onder meer hul toekomsbeeld, begroting en finansies, produksie, bemarking, instandhouding, personeelbestuur en gemeenskapsbetrokkenheid.
Die ander finaliste in die kompetisie was mnre. Le Roux Erasmus (29), ’n graanboer van Hoopstad, en Hennie Venter (29), ’n varkboer van Theunissen.