’n Loongeskil tussen die vakbond Solidariteit en Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) is na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys.
Die OBP het tydens ’n interne loongeskil aan sy werkers ’n 8%-verhoging aangebied met die voorwaarde dat hy self bonuspersentasies vasstel.
Solidariteit eis egter ’n verhoging van 10,5% en dat bonusse volgens elke werker se diensooreenkoms vasgestel word.
Bereid om te onderhandel
Die werkers sal glo die loonverhoging van 8% aanvaar indien hul bonusse op 20% vasgestel word.
“As ? ooreenkoms nie by die KVBA bereik kan word nie en die vakbondlede besluit om te staak, sal dit ernstige tekorte aan dieremedisyne veroorsaak,” verduidelik me. Ilze Nieuwoudt, die vakbond se woordvoerder.
“Met onlangse uitbrekings van voëlgriep en bek-en-klouseer, kan Suid-Afrika dit eenvoudig nie bekostig nie,” sê sy.
Die OBP vervaardig diere-entstowwe vir die plaaslike en internasionale mark. Die organisasie doen ook navorsing en produkontwikkeling op dié gebied.
23 Augustus 2011