
Mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB Landbou, sê laer brandstofpryse is veral nou nodig omdat dit boere die geleentheid gee om hul werksaamhede gedurende die 2020-’21 plantseisoen uit te brei. Hy sê die totale oppervlakte onder graan en oliesaad vir die 2019-’20-plantseisoen was 2,91 miljoen ha en dat dié oppervlakte in die volgende seisoen waarskynlik sal toeneem.
Makube sê die departement van energie het brandstofpryse verlaag omdat internasionale ruoliepryse met 8,8% gedaal en die rand se wisselkoers met 3,2% gedurende die vorige maand versterk het.
Die departement van energie het Sondag aangekondig dat die prys van 95-oktaanpetrol met 32c per liter daal en dié van 93-oktaan-petrol met 23c per liter. Die groothandelprys van diesel met ’n swaelinhoud van 0,05% daal met 90c per liter en dié van diesel met ’n swaelinhoud van 0,005% daal met 93c per liter.
Makube sê aangesien die landbousektor tans ’n besige tyd van die jaar betree, sal laer brandstofpryse ’n welkome vermindering van bedryfskoste reg oor die waardeketting tot gevolg hê.
“Graanboere en vervoermaatskappye in die landbouwaardeketting sal baat vind aangesien meer as 80% van graan padlangs vervoer word. Hopelik sal dit ook voordele inhou vir verbruikers wat hulself tans in ’n moeilike ekonomiese klimaat bevind deur hoër inflasie teë te werk.”