Behoorlike somerreën bly steeds weg oor die grootste deel van die land.
Mnr. Johan van den Berg, ’n klimatoloog by Santam Landbou, sê die situasie is kommerwekkend omdat waarskynlik minder as 30% van die beoogde somergraanaanplantings al gedoen is.
Kol-kol
Teen middel verlede week het daar steeds nog net kol-kol neerslae oor die grootste deel van die somerreënstreek geval . Veral dele van die Suid- en die Wes- Vrystaat, groot dele van die Noord-Kaap en die westelike deel van Noordwes het nog geen somerreën gekry nie.
Dit is natter in die noordoostelike deel, maar veral in Mpumalanga is daar gebiede wat nou weer dringend opvolgreën nodig het. Daar was verlede week ook nog nie ’n aanduiding van deurdringende reën oor ’n groter gebied nie, maar dit het wel gelyk of kanse vanaf 8 Desember ietwat verbeter.
Droogteskade
Intussen het droogteskade Oos-Vrystaatse koringopbrengste sleg geknou. Die Oesskattingskomitee het die verwagte Vrystaatse oes in sy vierde skatting opnuut afwaarts aangepas tot 517 500 ton.
Die res van die land se oesramings is onveranderd gelaat. Die jongste Vrystaatse skatting is 14% minder as die aanvanklike 587 500 ton uit dié provinsie wat nog in die eerste skatting in Augustus verwag is.
Daarteenoor is die nasionale moutgars-oesskatting met 6% tot net onder 252 000 ton verhoog en die nasionale kanola-skatting met amper 4% tot net minder as 50 500 ton.
6 Desember 2011