
Die kans is goed dat saaiboere op droëland weer verlede jaar se rekord-opbrengste kan afhaal as die weer in die volgende twee maande so goed soos tot dusver saamspeel. “Die someroeste (mielies, sojabone en sonneblomme) lyk pragtig. Die weer was tot nou perfek,” sê mnr. Brink van Wyk, graanmakelaar van die firma BVG.
Hy sê boere oor die hele somerproduksiegebied het in die feestyd goeie reën gehad – op of bokant hul gemiddelde neerslae op lang termyn. Wat weervooruitsigte op mediumtermyn betref, is daar tot dusver nog geen rede tot kommer nie. Wetenskaplike vooruitskouings toon dat normale neerslae op die meeste plekke verwag kan word.
Die oeste het ook nie meer vreeslik lank om te gaan nie – maksimum so twee maande – voordat opbrengste grootliks gemaak is, sê Van Wyk. Die mielie-oes moet nog deur die droogte-sensitiewe bestuiwingstyd teen middel en einde Februarie, maar as dit dan weer goed reën, kan baie goeie opbrengste verwag word, sê hy.
In dié stadium meen hy die nasionale gemiddelde mielieopbrengs behoort bokant die gemiddeld vir die afgelope drie tot vyf jaar te wees. “Dit lyk of ons op pad kan wees na verlede jaar se rekord-opbrengste.” Boere het vanjaar meer somergraan-hektare teenoor die vorige seisoen geplant, hoewel ’n bietjie minder mielies, maar meer sonneblommeen sojabone.
Prysbewegings op die markte is die laaste weke in groot mate deur die rand-dollar-wisselkoers beïnvloed, wat uiters wisselvallig was. Wat plaaslike pryse vir die res van die seisoen betref, sê Van Wyk dit behoort in groot mate deur ons uitvoertempo bepaal te word.
Vir diepsee-uitvoer van die nuwe seisoen se oes om te begin, moet die heersende pryse met ’n geraamde 10% (rofweg R200 per ton) val, vir Suid-Afrikaanse mielies om mededingend op die wêreldmark te word, sê Van Wyk.