
“In die laaste verkiesing het ANC- en nie-ANC-ondersteuners vir die ANC gestem, maar nie noodwendig vir die ANC as party nie, maar vir Ramaphosa.”
Tot 15% van die ANC se steun het gekom van kiesers wat vir Ramaphosa wou stem, nie vir die ANC nie. Sonder hom sou die ANC se steun onder 50% gewees het.
Gumede het deelgeneem aan ’n paneelbespreking van die nuwe Agri X-groep, wat onder leiding staan van mnr. Koos Nel, stigter en uitvoerende hoof.
Gumede het gesê as Ramaphosa opsystaan of nie weer tot ANC-leier verkies word op die ANC se nasionale verkiesingskonferensie einde vanjaar nie, kan die ANC se steun in die volgende verkiesing daal tot in die mid-30%.
Diegene wat in Suid-Afrika se vorige nasionale verkiesing vir Ramaphosa gestem het, sal nou weens die Phala Phala-skandaal voel hul hoop dat hy as individu ’n ander soort politikus sou wees, is verwoes. “Selfs al oorleef Ramaphosa polities in die ANC en hy is die party se presidentskandidaat, sal dié mense nie weer vir die ANC stem nie.”
As Ramaphosa moet opsystaan, sal dit die agteruitgang van die ANC versnel. “Ons is nou by die einde van die bevrydingsoorheersing van die ANC.” Bevrydingspartye se bewind eindig gewoonlik ná drie dekades van onbevoegdheid, wanbestuur en korrupsie.
Bevrydingsbewegings is ’n soort politieke party. Hul ondersteuners stem op grond van die verlede. Wanneer ’n tweede en derde nuwe geslag kiesers begin stem, het tot 40% van kiesers die bevrydingsbeweging net as regering ervaar, een van wanbestuur en korrupsie. Daar is dan ook ook genoeg lojale party-ondersteuners wat ontevrede genoeg voel oor byvoorbeeld die gebrek aan werkgeleenthede, wat ook nie meer vir die party sal stem nie.
Ramaphosa het volgens Gumede die ANC byna kunsmatig ’n vyf jaar langer leeftyd gegee.
Gumede het sake-ondernemings aangeraai om hulself voor te berei op die koms van ’n koalisieregering en te besef dat die ANC “se oog nie nou op die bal is” om Suid-Afrika te regeer nie, omdat hy hom toespits op sy konferensie einde vanjaar en die volgende nasionale verkiesing in 2024.
“Dink en innoveer met die gedagte dat die staat dalk nie teenwoordig sal wees nie,” was sy advies.
Ramaphosa kan wel binne ANC oorleef
Dr. Roelof Botha, ekonoom van die Optimum-beleggingsgroep en ook lid van die paneel, was optimisties dat Ramaphosa wel binne die ANC kan oorleef omdat sy steun in die party nou groter is as toe hy einde 2017 die partyleier geword het.
Die Phala Phala-gebeure is volgens hom nie ’n skandaal nie, maar ’n inbraak, wat buite verhouding deur die media opgeblaas word.
Ramaphosa het ’n totaal nuwe rigting ingeslaan as sy voorganger, oudpres. Jacob Zuma. Zuma het onder meer die program om hernubare energie deel van kragverskaffing te maak, met sewe jaar vertraag. “As dit nie hiervoor was nie, sou ons nie beurtkrag gehad het nie.”
Onder Ramaphosa beweeg Suid-Afrika volgens hom stadig in die regte rigting. Die ekonomie het verlede jaar in reële terme met 5% gegroei, die land het een van die sterkste betalingsbalanse ter wêreld en die rand was onlangs die sterkste teen die Amerikaanse dollar in twee jaar.