Kan ‘n nuwe besem die Departement van Walterwese en Omgewingsake skoonvee nadat pres. Jacob Zuma me. Buyelwa Sonjica, die betrokke minister, afgedank het?
Me. Edna Molewa, voormalig Minister van Sosiale Ontwikkeling, neem vandag (1 November) die leisels oor by Sonjica as Minister van Waterwese en Omgewingsake. Molewa was voor haar aanstelling premier van Noordwes.
Sonjica is een van nege ministers en 17 adjunk-ministers wat Sondag (31 Oktober) uit hul poste geskuif of afgedank is. ‘n Woordvoerder van die departement sê Sonjica sal voortaan as ‘n lid van die Parlement dien.
Wag en kyk
“Ons sal maar moet hoop en sien of die nuwe Minister ‘n verskil gaan maak aan die watersituasie in die land, en of sy daadwerklik iets gaan doen,” sê mnr. Louis Meintjes, ondervoorsitter van die TLU SA.
Hy is bly dat Sonjica vervang is. “Al wat sy gedoen het was om alles te ontken.”
Volgens Meintjes heers daar hoop dat Molewa beter sal skakel met rolspelers en dat sy behoorlike besluite oor waterprobleme sal neem, asook die nodige kundigheid sal inwin om die betrokke probleme te help oplos.
“Jy kan nie ‘n perd wat dood is lewendig slaan nie. So, los die probleme wat daar is op en fokus minder op die vingerwysery,” merk Meintjes op.
Tegniese kundigheid
Intussen sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, die minister wat in dié pos aangestel word, moet oor tegniese kundigheid beskik. Hy is baie bekommerd oor die agteruitgang by die departement rondom die algehele watersituasie, tariewe, beskikbaarheid van water, waterlisensies, besoedeling, ensovoorts.
“Ek dink nie die land kan regtig ‘n minister, wat nou alles van voor af moet begin leer, bekostig nie. Ons wens me. Molewa geluk met haar aanstelling, en hoop dat sy binne 30 dae op spoed kan wees met al die probleme en krisisse, want dít is wat ons nodig het,” sê hy.
“Ons sal alles in ons vermoë doen om haar te ondersteun, want daar is min tyd oor om die waterprobleme in die land op te los,” merk Möller op.
Wildbedryf verwelkom aanstelling
Dr. Gert Dry, voorsitter van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA), sê hy verwelkom Molewa se aanstelling. “Ons wens haar werklik alle voorspoed toe. Ons vorige blootstelling aan haar het aangedui dat sy goeie kommunikasie het met belangegroepe en rolspelers. Die afgelope paar jaar het ons baie gesukkel met die kommunikasiekanale.”
Klik hier vir die volledige lys veranderinge aan die Kabinet.
Lees ook:
Nuwe adjunk vir Grondhervorming
Shabane nuwe DG vir Grondhervorming
1 November 2010