Hoewel nog baie water in die see moet loop, bestaan aanduidings dat konstruksiewerk aan Suid-Afrika se eerste sonkrag-aanleg binne twee jaar in die Noord-Kaap kan begin.
Me. Dipuo Peters, Minister van Energie, het tydens die Windenergie-seminaar by Gallagher Estate in Midrand in Gauteng gesê volgens die voor-lewensvatbaarheidsverslag van die Clinton Climate Initiative (CCI) is verskeie gebiede in die Noord-Kaap geskik vir die oprigting van ’n sogenaamde “solar park”, met ’n lewering van 5 000 MW elektrisiteit wat vir minder as 15 sent per kilowatt-uur opgewek kan word.
Gebiede in die Noord-Kaap is geskik vir sonkrag-opwekking danksy die hoë uitstraling, plat topgrafie en toeganklikheid tot water, onder meer uit die Oranjerivier. Die infrastruktuur soos toegangsroetes, ’n lughawe en toegang tot die nasionale kragnetwerk tel ook in dié gebied se guns.
Die CCI en verskillende regeringstrukture, waaronder Eskom en die Departement van Energie, het saamgewerk aan die voor-lewensvatbaarheidsverslag. Na verwagting sal meer as 12 000 werkgeleenthede geskep word tydens die kontruksiefase terwyl meer as 3 000 permanente werkgeleenthede vir die onderhoud en instandhouding van die sonpanele ter sprake is.
’n Volwaardige lewensvatbaarheidstudie wat vraagstukke soos finansiering, eienaarskap en die uiteindelike oprigtingsgebied sal insluit, is die volgende stap in die ontwikkelingsproses.
Die CCI-verslag identifiseer sewe moontlike gebiede naby onder meer die dorpe Groblershoop, Prieska en Upington.
Mnr. Ira Magaziner, voorsitter van die CCI, reken Suid-Afrika het die beste toestande vir die opwek van sonkrag wat hy nog gesien het. Die beoogde aanleg sal aan private eletrisiteitsverskaffers die geleentheid bied om elektrisiteit aan die owerheid te verkoop. Hierdie verskaffers sal na verwagting meer as R150 miljard in die park belê.
29 September 2010