Volgens mnr. Nicolaas Fauré van Schalkwyk, elektriese ingenieur by Solar Training Centre, wat installeerders van sonpanele en munisipale amptenare oplei, bevat NRS 097-2-3 die tegniese standaarde en reëls vir gevalle waar stelsels met laespanning-opwekkingsvermoë (LV) van 1 kV of minder aan die kragnetwerk gekoppel word.
Daarvolgens mag die maksimum uitvoerkapasiteit van ’n toegewyde voerder, soos die meeste boere het, nie meer as 75% van die geïnstalleerde eenheid se kapasiteit wees nie. Dié kapasiteit is die gesamentlike aktiewe krag wat die installasie na die netwerk kan uitvoer by die netwerkverbindingspunt.
Die maksimum laaistroom as batterye byvoorbeeld deel van ’n hibriede stelsel is, moet 25% van die geïnstalleerde eenheid se kapasiteit wees. Aansoeke wat nie aan dié kriteria voldoen nie, sal ’n alternatiewe proses moet volg, soos gedetailleerde impakstudies.