Die 125%-korting wat vir besighede geld, is volgens mnr. Terry Moss, besturende direkteur van All Power, ’n alternatiewe-energiemaatskappy van Gqeberha, ’n hulpkreet vir onmiddellike opwekkingskapasiteit op die nasionale kragnetwerk.
Volgens Moss en mnr. Chris Schutte, besturende direkteur van Sonfin, beteken dié korting egter niks wat verligting op belasbare inkomste betref indien jou besigheid nie ’n wins maak nie.
“Ongelukkig is dit nie voordelig vir die meerderheid boere wat 70-80% van Suid-Afrika se voedselprodusente is nie,” sê Schutte. Hy wys daarop dat veral kleinboere en bestaansboere te midde van die huidige ekonomiese toestande met beurtkrag, vloede en hoër insetkoste, meestal nie ’n wins maak nie.