Reuse geleenthede bestaan vir die landbou om hernubare energie tot sy voordeel in te span, het prof. Daan Louw, uitvoerende hoof van die maatskappy OABS, op ’n inligtingsdag oor hernubare energie gesê.
Louw sê almal is bang vir klimaatverandering, maar daar moet besef word dat dit nie net bedreigings inhou nie, maar ook talle geleenthede vir die landbou bied. “Een ding is seker, daar kan nie bloot aangegaan word soos tans nie, want die mens is besig om sy planeet te vernietig. Klimaatsverandering vind vinniger plaas as wat aanvanklik gemeen is.”
Behalwe die soeke na ’n meer kostedoeltreffende energievorm in skoon energie, noop die mens se sosiale gewete hom ook daartoe om te streef na skoon energie.
Louw sê veral ’n streek soos die Weskus het wonderlike geleenthede om meer windkrag te gebruik. Die land is ook sonnig en sonenergie is volop.
Seewater kan ontsout word deur sonenergie in te span. Louw stel voor dat aan die Weskus ’n hernubare energie-inisiatief op die been gebring word. In die Noord-Kaap bestaan reeds so ’n inisiatief.
4 Oktober 2010