
Van Zyl het by ’n onlangse inligtingsdag van Sanlam by Modimolle in Limpopo aanbeveel dat boere maniere ondersoek om onderling saam te boer. Hy het verduidelik dat ’n groep buurmanne wat een besigheidsentiteit vorm, ’n meer gediversifiseerde boerdery het en daarom beter verskans is teen probleme soos droogtes, wisselvallige kommoditeitspryse en voorgeskrewe loonverhogings.
Ter illustrasie het Van Zyl ’n scenario voorgehou van ’n groep bure waarvan die een ’n rekenmeester is wat as naweekboer met beeste boer, die ander buurman is ’n saaiboer en daar is ook groente-, hoender-, melk- en vrugteboere in die groep wat besluit het om ’n sindikaat te vorm.
“Kom ons sê die saaiboer is op die punt waar hy uit boerdery gaan tree, want hy kan net nie meer die toue bymekaar bring nie. Dalk het hy verkeerde bestuursbesluite geneem, dalk het hy net nie meer die regte kapasiteit in die skaalekonomie nie, maar een ding is seker – op sy eie staan hy nie ’n kans nie.”
Verskeie opsies
Van Zyl het verduidelik dat banke anders na so ’n boer sal kyk as hy deel is van ’n groter entiteit met verspreide risiko. Hy meen boere moet kreatief wees in hul samewerkingsoplossings en dat daar nie ’n enkele wenresep is wat vir alle boerderye sal werk nie.
Hy het gesê boere kan dit byvoorbeeld oorweeg om hul aankope as ’n groep te doen en só beter afslag op insette beding, in ander gevalle kan boere eerder onder mekaar koop en verkoop om vervoer- en opbergingskoste te bespaar. “Wat help dit ek verkoop my graan en boet ’n vervoerdifferensiaal in, terwyl my buurman wat ’n veekomponent het, weer graan koop wat hy ten duurste plaas toe moet vervoer?”
Hy het vertel hoe die rekenmeester in sy denkbeeldige sindikaat of koöperasie boere kan help om sulke onnodige besteding te identifiseer. “Dieselfde rekenmeester kan almal bystaan met finansiële administrasie, want ons weet mos: ’n Boer vat eerder aan ’n pofadder as aan ’n pen.”
Van Zyl glo ook sulke samewerkingstrukture sal boere in staat stel om beter te meganiseer en te bespaar op arbeid. “Gaan verkoop jou Fiat 640-trekkertjies en vierry-plantertjies en gaan koop optimale toerusting. Jy haal binneheinings af en beplant nou die wenakkers ook. Die planter draai nie ná 200 m nie, maar ná 2 km. Hoeveel arbeid het ons regtig nodig as daar tien boere is wat saam boer? Ons kan mekaar mos help.”
Hy het gesê dat boere op die oostelike Hoëveld nie noodwendig nou “aangeskakel” is vir hierdie denke nie, maar dat dit tans ’n lewenslyn kan wees vir boere van onder meer Bultfontein in die Vrystaat. “Hulle is baie ernstig besig om na sulke opsies te kyk.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.