
Dié prys sal na verwagting binnekort stabiliseer, aangesien die groot speentyd op die Hoëveld teen einde Maart, April en die eerste deel van Mei voorlê.
Mnr. PM Swart, ’n afslaer van OVK op Standerton, sê bulkalwers van goeie gehalte is Vrydag (13 Maart) teen R32/kg tot R33/kg lewende gewig verhandel teenoor die hoër vlak van meer as R34/kg van vroeër. Verskalwers van 180 kg tot 240 kg het teen R29/kg tot R30/kg verhandel.
Volgens Swart is die veilings van die afgelope vier weke op Standerton gekenmerk deur baie verkopers wat enkele beeste of klein vragte aangebied het te midde van groot getalle verkopers. Standerton se weeklikse Vrydag-veilings is ’n goeie barometer van prysneigings, aangesien vier ondernemings, OVK, Vleissentraal, BKB van Wyk en BKB Louwid, dan derduisende stuks vee opveil.
Volgens Swart is Standerton ook goed geleë naby die meeste van die groot voerkrale.
“Die rol wat boere oor die volgende ses weke in die mark met aankoop van ligte kalwers en stoorkoeie gaan speel, is nog onbekend,” sê hy.
Groot kommersiële beesboere het in die tyd toe die veilingsverbod weens die bek-en-klouseer gegeld het, regstreeks hul speenkalwers aan die voerkrale bemark. Mnr. Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) sê: “Dit het egter toe beteken dat die kleiner ondernemings, soos die nuwelingboere, nie groot genoeg pakkies vee kon bymekaarmaak om regstreeks te bemark nie.”
Die prys vir speenkalwers het in dié tyd gestyg weens ’n laer aanbod.
Nog ’n faktor wat die vraag en aanbod van vee beïnvloed, is produsente wat vee vir belastingdoeleindes in Februarie gekoop het, asook ter aanvulling van hul kuddes ná die goeie reën oor die sentrale binneland.
Dr. Christo Joubert van die Landboubemarkingsraad sê as die speenkalfprys styg, is van die faktore wat op langer termyn in ag geneem moet word die invloed daarvan op die plaasvervangende proteïenbronne soos vark- en hoendervleis.
“Indien die mielieprys weens ’n stewige aanbod van ’n goeie oes daal, sal die prys van dierevoer ook daal. Veral die vark- en hoenderbedryf word hierdeur bevoordeel,” sê hy. Volgens Joubert sal die aangekondigde styging in die invoertarief op pluimveevleis nie noodwendig die kleinhandelsprys van hoendervleis laat daal nie, maar dit sal dié bedryf in staat stel om binnelands uit te brei.
Die hoër tariewe op ingevoerde hoendervleis is op 13 Maart in die Staatskoerant afgekondig. Die tarief vir stukke aan die been is vanaf 37% tot 62% verhoog en vir ontbeende stukke vanaf 12% tot 42%.