Hoewel die prys van speenkalwers sedert middel Desember gedaal het, het pryse teen middel verlede week met meer as 10% gestyg.
Mnr. Jan Erasmus, streekbestuurder by CMW Elite, sê die prys van lewende speenkalwers van tot 240 kg het vanaf R18/kg tot bykans R19/kg binne ’n week gestyg. Dit is egter steeds laer as die R20,50/kg in November.
“Die belangrikste redes vir die daling is die skerp styging in brandstof en mieliepryse en die koopkrag van verbruikers wat onder druk is.” Erasmus meen speenlammers sal in die volgende paar maande tot R22,50/kg kos. Dit is aansienlik laer as die R28/kg wat verlede jaar daarvoor betaal is.
Weidingstoestande goed
“Speenlammers is volop en die weidingstoestande in die algemeen baie goed.” Vet, ou koeie is egter skaars en verkoop tans teen gemiddeld R28/kg (geslag).
Hy twyfel of die prysverlagings aan verbruikers deurgegee sal word aangesien die produksiekoste heelwat gestyg het.
“Die prys wat verbruikers bereid is om vir rooivleis te betaal, word ook in ’n groot mate deur die heersende prys van alternatiewe proteïenbronne, soos hoender en vis, bepaal.”
8 Februarie 2012