
Altesame 215 034 huishoudings in Suid-Afrika besit skape, 613 662 huishoudings besit beeste, en 429 065 huishoudings het bokke.
Hiervan besit die opkomende sektor sowat 40% – wat reeds 'n groot bydrae tot voedselsekuriteit in die land lewer, het mnr. Louis Wessels, voorsitter van die Wes-Kaapse tak van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) tydens hul algemene jaarvergadering gesê.
“Die bedryf se omset kan met 30% verhoog word as die informele sektor ontwikkel en gestimuleer word. Die bedryf is nie net een van die topbydraers tot die bruto binnelandse produk nie, dit toon ook die afgelope tien jaar 'n groeikoers bo inflasie.”
Sterk vraag
Die vraag na Suid-Afrikaanse rooivleis styg sterk, en daarmee saam pryse van skaap- en beesvleis wat met 20% in die laaste jaar gestyg het. Speenkalwerpryse het selfs met 35% gestyg. Die hoë gehalte van ons rooivleis laat ook die internasionale vraag daarna toeneem.
“Die vraag uit China en die Midde-Ooste groei sterk, en selfs lande buite die Europese Unie, soos Switserland, stel belang in ons produkte.”
Droogtes speel egter ook 'n groot rol in prysstygings, en bevolkingsgroei dra by na 'n groter vraag na proteïene. “Dit is vir ons 'n uitdaging om produksie te verhoog om aan die vraag te voorsien.”
Wessels het gesê die ‘padkaart’ vir die rooivleisbedryf bestaan uit produksie-ontwikkeling en mededingendheid, vleisveiligheid, verbruikersgemoedsrus, dieregesondheid, dierewelsyn en biosekuriteit, 'n bemagtigende produksie- en handelsomgewing, die bevordering van uitvoere en bestuur van invoere, die aanmoediging van openbare- en privaat vennootskappe, asook verbruikersopvoeding.