
Vanweë die unieke werksituasie in die landbou, meen akademici dat ’n spesiale stelsel vir dié sektor rakende ‘n nasionale minimum loon ingestel moet word.
Die Regering ondersoek tans die moontlikheid om ‘n nasionale minimum loon in te stel as ’n meganisme om ongelykheid in inkomste te verminder.
Prof. Haroon Bhorat van die Navorsingseenheid vir die Ontwikkeling van Beleid by die Universiteit van Kaapstad, het gesê ander lande het reeds ’n spesiale stelsel vir die landbou ingestel waar die minimum loon laag is, maar dat ’n maatskaplike loon dan vir die lae loon vergoed.
Op vrae van die Parlement se portefeulkekomitee oor arbeid of ’n nasionale minimum loon armoede sal verlig, het Bhorat gesê dat ‘n werklike situasie analiseer sal moet word waar sommige mense hulle werk verloor en waar die wat behou word se werksure verhoog word. Dit moet dan oorweeg word of die armoede meer is as waarvoor die werk kan opmaak en oorweging sal gegee moet word aan wat die huishoudelike omstandighede voor en na die minimum loon was.
Maar dit is ’n baie meer komplekse situasie in die landbou. In die sektor word daar nie altyd met ’n kontantloon betaal nie, maar met voordele soos behuising, onderrig, vervoer of mediese sorg, wat as bykomende vergoeding dien.
Hy het aan die komitee voorgestel dat inkomste buite loonverband dus vir die sektor ook as ’n manier van betaling oorweeg moet word. Die nasionale minimum loon sal verskil van die sektorale vasstelling.
Ná gewelddadige protesoptogte deur die plaaswerkergemeenskap in die Wes-Kaap het die Regering verlede jaar ’n nuwe minimum loon van R105 per dag (nege uur) ingestel. Dié loon het begin Maart met 6,4% tot R111,72 per dag gestyg.
Die studiegroep wat gebruik was om die impak van die minimum loon te bepaal, het spesifieke resultate getoon sedert die loon in 2002 ingestel was. Dit toon dat werksure in die jare voor die instelling van die minimum loon, onderskeidelik 42 ure, 43 en 39 ure was. Maar ná die instelling van die loon het dit na 49 ure verhoog. Die voltydse gelykwaardige ure het afgeneem, maar die ure per week het toegeneem. Maar diegene wat nie hulle werk verloor het nie, se lone het toegeneem.
By ander ekonomiese bedrywe buite die landbou was daar egter ’n beweging weg van tydelike werkers, wat gelei het tot ’n toename in die werklike werksure, maar ’n afname in die hoeveelheid ure wat weekliks gewerk was. Toe die minimum loon vir die landbou ingestel was, het die plaaswerker se loon met 17% gestyg en daar was ’n toename aan werkers wat geskrewe werkskontrakte gekry het. In 2007 het 57% van die studiegroep kontrakte gehad.
Me. Lumka Yengeni, voorsitter van die portefeuljekomitee vir arbeid, het gesê die kwessie oor die instel van ’n nasionale minimum loon is polities en ekonomies. Met die voorleggings van die akademici kan daar nie tot ‘n besliste slotsom gekom word dat minimum lone tot werksverliese in die verlede gelei het nie. Die komitee sal openbare verhore hou waar belanghebbendes bydraes kan lewer.