
Die kouer toestande wat sedert begin April in die Oos-Kaap voorkom, is tot voordeel in die stryd teen swerms bruinsprinkane wat warmer weer verkies en dus nie nou sal eiers lê nie.
Volgens dr. Gerhard Verdoorn, bedryfsbestuurder by Croplife SA, begin die sprinkaanswerms nou uitgedun raak en is daar nie meer massiewe swerms in die Oos-Kaap, soos wat ’n maand gelede gesien is nie.
“Daar is nog voetgangers wat binnekort sal begin vlieg, maar hulle sal nie so baie wees nie en die koeler toestande sal die vlieërs uitdun.”
Verdoorn sê vanweë die kouer weer sal daar waarskynlik nie voor die winter nuwe sprinkane uitbroei nie. Hy meen dat die huidige swerms teen middel Mei uitgewoed sal wees.
Volgens Agri Oos-Kaap begin die swerms nou al hoe meer oos beweeg. Daar is steeds groot swerms in die distrikte van Somerset-Oos, Makhanda en Bedford.
Swerms beweeg minder
Mnr. Günther Pretorius, bestuurder van ekonomie en natuurlike hulpbronne by Agri Oos-Kaap, sê die swerms is steeds groot en die koue veroorsaak dat die sprinkane nie so baie beweeg nie.
Volgens Pretorius word weidings die meeste deur die swerms affekteer. Hoewel swerms voorkom in die Visrivier-vallei, waar mielies en lusern onder besproeiing aangeplant is, is daar tot dusver nog geen ernstige verliese by Agri Oos-Kaap aangemeld nie. Daar is wel boere wat sukkel om groot swerms te bekamp.
Agri Oos-Kaap is bekommerd dat swerms na die kommunale gebiede in die voormalige Ciskei kan beweeg.
Verdoorn sê hoewel dit moontlik is, glo hy dat die kans vanweë die laer temperature skraal is.
Verdoorn waarsku egter boere in gebiede waar swerms bruinsprinkane voorgekom het, om hul oë teen einde Augustus oop te hou vir die voorkoms van swerms. Dit is oral nat en as die temperatuur styg, sal daar weer uitbrekings wees. Boere moet dadelik laat weet as daar uitbrekings is sodat planne beraam kan word om enige uitbreking in sy spore te stuit.
Geen provinsiale hulp
Agri Oos-Kaap rig ook ’n ernstige versoek tot me. Nonkqubela Pieters, die Oos-Kaapse LUR vir landelike ontwikkeling en grondhervorming, om dringend in te gryp om die probleem in die provinsie onder beheer te bring.
“Dit lyk asof die provinsiale departement tevrede is dat die nasionale departement die sprinkane bekamp. Daar is weekliks ’n vergadering om kwessies te bespreek, maar dit doen nie juis iets om die probleem op te los nie.”
Anders as in die Wes-Kaap waar die provinsiale departement R5 miljoen vir bystand beskikbaar gestel het, weet Agri Oos-Kaap van geen finansiële hulp van die Oos-Kaapse regering vir boere nie.
Agri Oos-Kaap sê van die mense in beheer van die bekamping van sprinkane in die provinsie, saam met hul voormanne en algemene werkers, is ná vyf maande nog nie betaal vir hul werk nie.
Dié kwessie is al etlike kere onder die aandag van die nasionale departement gebring, maar niks is gedoen om dit reg te stel.
Grondspanne kry ook nie voldoende toerusting en gifstowwe van die nasionale departement nie, met private organisasies, soos die Sondagsriviervallei se sitrusforum, wat help deur gifstof in De Aar te gaan haal.
Daarby word lugsteun en gifstofverskaffing swak gekoördineer van die Oos-Kaapse departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming se kantoor op Jansenville.
Hulle vra waarom Pieters nog nie ’n provinsiale komitee aangestel het wat bestaan uit mense wat ’n bydrae kan lewer om dié probleem aan te pak nie.