Sprinkane laat ’n pad van verwoesting in die suide van Namibië. Ná die jare lange uitmergelende droogte in dié buurland het boere in die suide van Namibië net begin moed skep toe die sprinkane uit Suid-Afrika gedurende 2021 begin inkom en groot skade veroorsaak het in ’n tyd dat geld en gif skaars was.
Vanaf begin Februarie 2021 het boere drie maande aaneen sprinkane (vlieërs) bespuit, sê mnr. Rian Lombard, wat 60 km noord van Ariamsvlei boer. Op 13 Oktober 2021 was daar weer ’n sprinkaanplaag op Ariamsvlei en Grunau. Die sprinkane het eiers gelê sover as wat hulle getrek het, wat die huidige probleme veroorsaak.
Sedertdien bestry boere vlaag op vlaag sprinkane by Ariamsvlei, Koës, Aroab, Grunau, Karasburg en nou selfs Keetmanshoop en Tses. Die sprinkane gaan na verwagting verder noord beweeg. Volgens Lombard bespuit die groep boere op die oomblik tot 300 swerms sprinkane per dag vir 20 tot 30 dae per maand.