
Helikopters is uiteindelik beskikbaar gestel om sprinkaanswerms in die Noord-Kaap te bestry, maar weens laat betalings oorweeg sommige distriksprinkaanbeamptes en voormanne nou regstappe teen die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.
Me. Andrea Campher, risiko-en-rampbestuurder by Agri SA, sê helikopters is sedert die naweek beskikbaar gestel om sprinkaanswerms in die Noord- en Oos-Kaap te bestry. Intussen het Agri Wes-Kaap versoek dat lugsteun ook na Murraysburg gestuur word waar swerms van 5 km tot 20 km in deursnee, sommige reeds vlieërs, tans voorkom.
Hoewel die lugsteun goeie nuus is, sê sy dat distriksprinkaanbeamptes en voormanne raadop is oor die departement se laat betalings. “Die departement betaal, maar dit duur lank. Ons is baie dankbaar vir die lugsteun, maar daar is uitstaande betalings van selfs September wat die departement nog nie gemaak het nie.”
Sy sê dit raak onmoontlik om geld vir die betaling van algemene werkers en brandstof voor te skiet, veral aangesien brandstofpryse tans so hoog is.
Agri SA sal in die komende dae nog R144 000 uit sy rampfonds vir die bestryding van die sprinkane betaal. Sover is meer as R500 000 al uit dié fonds vir die bestryding van sprinkane betaal.
Die afgelope week is verskeie skenkings vir die bestryding van die sprinkaanswerms aan die rampfonds gemaak. Verlede week het Santam, Sanlam, Agri SA en Vrystaat Landbou gesamentlik R300 000 vir die rampfonds geskenk.
Mnr. Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, waarsku dat sprinkane nog met die huidige gunstige weerstoestande kan uitbroei tot die eerste ryp middel April voorkom. Dié krisis is dus ver van verby.
Mnr. Willem Symington, adjunkvoorsitter van Agri Noord-Kaap, sê distriksprinkaanbeamptes en voormanne se kontrakte met die regering bepaal dat hulle binne ’n maand nadat ’n eis gestuur is, vergoed moet word, maar verskeie betalings is uitstaande.
Dit veroorsaak veral ’n probleem met die algemene werkers wat verwag om daagliks betaal te word. Dié werkers is gewoonlik werkloses wat deur die staat in diens geneem word om sodoende nie net die sprinkane te bestry nie, maar ook werksgeleenthede te skep.
“Hierdie mense en hul mense by die huis het nie kos nie en wag elke dag vir hul geld om kos vir die volgende dag te kan koop. Hul kontrakte werk ook so dat die regering hulle op ’n maandelikse basis betaal. Hulle wag dus ’n maand vir hul betaling.”
Aangesien die distriksprinkaanbeamptes en voormanne die middelman tussen die algemene werkers en die regering is, ontstaan daar wrywing wanneer daar nie geld is om die algemene werkers elke dag te betaal nie. “Hulle verstaan nie dat dit die regering is wat hulle in diens geneem het nie. Later wil hulle nie meer by die spuit betrokke wees nie, want hulle wil nie twee maande, of selfs meer, vir betaling wag nie.”
Hy sê buiten die betaling van lone het die beamptes en voormanne daagliks enorme uitgawes aan brandstof en herstelwerk aan hul voertuie. “Hul geldsake laat dit ook nie meer toe dat hulle onbeperk met die werk voortgaan nie. Hulle het nie meer geld daarvoor nie. Dit is mense wat nou uit ’n dekade lange droogte gekom het.”
Symington meen die bestryding van sprinkane is ’n goeie voorbeeld van ’n openbare-private-vennootskap wat goed ontwikkel is, maar dit dreig om tot stilstand te kom omdat mense nie betaal word nie. “Die ander dinge loop mooi. Daar is genoeg gif beskikbaar en daar is pogings om tekorte aan toerusting aan te pak. Die betalings is die laaste dingetjie wat nou reggestel moet word. Die finansies daarvoor is beskikbaar.”