
Sprinkaanbeamptes in die Noord-Kaap takel die uitbreking van bruin sprinkaanswerms in die gebied en alles is volstoom aan die gang, sê me. Janine Byleveld, bedryfsamptenaar by Agri Noord-Kaap.
Sy sê die sprinkane in die provinsie is nog in die voetgangerstadium. Dit kan tot 78 dae duur vandat ’n sprinkaan uitbroei tot dit volwasse word en begin vlieg. “Ná 56 dae is hulle gereed om te reproduseer en kan die wyfie ses tot tien eierpakkies lê met gemiddeld 48 eiers per pakkie. ’n Wyfie kan meer as 380 eiers per seisoen lê. Twee tot drie generasies kan dus in een seisoen voorkom.”
Bruin sprinkane, wat van al die sprinkane die grootste probleem in Suid-Afrika is, oorwinter in die eierstadium. “Hierdie eiers word deur vog en hitte geaktiveer om sowat 10 tot 14 dae ná reënval van so min as 10 mm uit te broei. As vog ontoereikend is, kan slegs ’n gedeelte van die eiers in die pakkie uitbroei. Indien geen neerslag plaasvind nie, kan eiers tot drie jaar dormant bly.
“Gepaardgaande hiermee is die swermfase en enkellewende fase (wanneer min skade gedoen word) ’n verdere oorlewingsmeganisme wat die bruin sprinkaan in sy ekstensiewe habitat van droë en halfdroë gebiede van Suid-Afrika en Namibië ’n uiters moeilik beheerbare plaag maak.”
Sy sê die voetgangerstadium is normaalweg die tyd wanneer natuurlike vyande aktief op die sprinkane jag maak. “Chemiese bestryding vind normaalweg eers plaas wanneer die natuurlike vyande die stryd teen die sprinkane verloor of daar voldoende aanduidings is dat die uitbreking van so ’n omvang is dat die natuurlike vyande nie die plaag onder beheer kan bring nie.”
Sprinkaanswerms is sedert verlede week in die Noord-, Oos- en Wes-Kaap aangemeld.
KAROO
Mnr. Danie le Grange, voorsitter van Prins Albert-landbouvereniging en sprinkaanbeampte vir die distrikte Prins Albert en Klaarstroom, sê daar word verwag dat die swerms redelik groot sal raak aangesien baie vlieërs agtergebly het met die vorige uitbreking en daar dus baie eiers gelê is.
Hy sê die sprinkane is nog baie klein, maar sal die gras wat uitloop, vreet sodra hul groter word. “ ’n Mens kan hul beter bekamp as hulle klein is, want hulle kan nou vroegoggend en laatmiddag bespuit word.”
Hy sê dit is belangrik dat boere hul grond – veral grond wat nie bewoon word nie – nagaan en swerms aanmeld.
Die grootste bekommernis is volgens hom dat daar nie genoeg spuite en mense sal wees om die swerms te bespuit nie. As die sprinkane vlieërs word en eiers lê, begin die hele siklus van voor af. Verdere swerms kan uitbrei wanneer dit weer reën.
Hy sê die sprinkane het weens die droogte die afgelope paar jaar nie voorgekom nie. Vlieërs wat nie uitgewis is waar hulle vroeër vanjaar uitgebroei het nie, het na ander gebiede versprei en eiers gelê. “Dit is hoekom dit belangrik is dat sprinkane uitgewis word daar waar hulle uitbroei.”
Volgens me. Linda Page, woordvoerder van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, is kontrakteurs aangestel vir die bekamping van sprinkane in al die gebiede waar uitbrekings voorkom.
Lede van die publiek en boere word versoek om enige swerms aan me. Mulalo Matodzi by 083 326 7773, me. Vuyokazi Mpumlwana by 084 760 8176 of dr. Ikalafeng Kgakatsi by 072 198 9882 aan te meld. Boere kan swerms ook by die kantoor van die departement van landbou op De Aar aanmeld by 053 631 3122 of 053 631 3261, of by dr. Gerhard Verdoorn by 082 446 8946.