
Me. Andrea Campher, bestuurder van die risiko-en-rampeenheid van Agri SA, sê meer as 23 miljoen ha is in die vorige somerseisoen geraak deur die ergste sprinkaanuitbrekings in 25 jaar. Sowat 90% van dié gebied is landbougrond. Sy sê dringende stappe moet gedoen word om selfs groter verliese in die komende somer te voorkom.
Uitbrekings is reeds in die Noord-, Oos- en Wes-Kaap aangemeld. Mnr. Gunther Pretorius, Agri Oos-Kaap se bestuurder van ekonomie en natuurlike hulpbronne, het aan die begin van vandeesmaand aangedui dat dit reeds nodig was om te bespuit ten einde te voorkom dat die uitbreking buite beheer raak.
Campher waarsku vernietigende swerms kan veral in die komende somer verwag word aangesien die Suid-Afrikaanse Weerdiens bogemiddelde reënval voorspel. Ongeag die erns van die bedreiging wat die sektor in die gesig staar, is die kontrakte van spinkaanbeamptes in die betrokke provinsies volgens Agri SA nie tydig hernu nie.
“Agri SA het ’n dringende vergadering met me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, en mnr. Mooketsa Ramasodi, direkteur-generaal van die departement, belê om die departement se reaksie op hierdie dreigende ramp te bespreek.”
Die dringende uitreiking van sprinkaanbeamptes se kontrakte wat nog nie gefinaliseer is nie, die verkryging van insekdodervoorrade en spuittoerusting, die verspreiding van beskermingstoerusting vir beamptes, die opleiding van nuwe beamptes en die departement se kapasiteit om eise vir betaling te verwerk sal bespreek word.
“ ’n Aantal probleme is in 2021 en 2022 ervaar wat ook vóór 2023 reggestel moet word. Voorheen is baie van hierdie kwessies met finansiering van die private sektor aangepak om die impak van die openbare sektor se tekortkominge te versag.
“Die goeie nuus is dat die departement brandstoftariewe vir die komende sprinkaanseisoen hersien het.”
Mnr. Reggie Ngcobo, woordvoerder by die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê al die sprinkaanbeamptes wat goed met die departement saamgewerk het, word vir die hernuwing van hul kontrakte oorweeg. Hy sê diegene wat oud is of nie hul pligte bevredigend nagekom het nie, se kontrakte sal nie hernu word nie.
“Nuwe kontrakte word tans uitgereik in gebiede waar uitbrekings reeds aangemeld is. Ons wil graag boere herinner dat dit volgens wet hul plig en verantwoordelikheid as grondeienaars is om die uitbreking van sprinkane te monitor, aan te meld en te bekamp. Die regering sal help waar nodig.”
Sprinkaanuitbrekings moet by die departement se sprinkaankantoor op De Aar by 053 631 3122 of 053 631 3261, of die kantoor op Upington by 083 326 7773 aangemeld word. Swerms kan ook aangemeld word per WhatsApp by CropLife SA by 082 446 8946. Dit sal dan by die departement aangemeld word.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.