Sprinkaanplae sak tans op die suidelike dele van Australië toe en boere word aangeraai om plae aan te meld.
Luidens ’n berig op die Kondiningroup-webtuiste het die aantal oproepe na die land se kantoor vir die aanmelding van sprinkane oor die afgelope paar dae toegeneem.
Die Australiese regering moedig boere aan om insekdoders te spuit in die dele van landerye en veekampe waar sprinkane ’n probleem is. Verder raai hulle boere, wat tans onkruiddoders op hul aanplantings spuit, aan om insekdoders in dié mengsels in te sluit.
Die sprinkane kom veral in die omgewings van Georgetown, Narridy, Koolunga, Yacka, Spalding en Washpool in Suid-Australië voor. Volgens me. Kym Perry, ’n entomoloog by die Suid-Australiese Navorsings- en Ontwikkelingsinstituut, is die meeste van die sprinkane is in die vlieërstadium. Na verwagting sal die insekte volgende week na ander dele begin beweeg.
Perry sê hulle verwag nie dat die swerms wat tans voorkom, baie ver gaan vorder en oeste later die jaar gaan benadeel nie. Sy sê hulle is wel bekommerd dat die droogtetoestande wat tans voorkom die sprinkane na ander natter dele van die land kan dryf, waar hulle eiers kan lê wat ná goeie reën kan uitbroei.
Bron: Kondiningroup
7 Februarie 2012