
Die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake en landelike ontwikkeling veg verbete teen die uitbreking van sprinkaanswerms in die provinsie.
Veral in die noordwestelike gedeeltes van die Noord-Kaap, onder meer Concordia, Springbok, Boesmanland en Pofadder, kom groot uitbrekings van sowat 400 swerms daagliks voor. In die suidoostelike gedeeltes by De Aar en Richmond kom groot uitbrekings ook voor.
Uitbrekings is ook by Upington en Aggenys aangemeld.
“Dit gaan rof aangesien die gebiede waar swerms voorkom groot is. Dit is moeilik om gifstowwe betyds oral te kry en die departement is redelik oorwerk,” sê me. Janine Byleveld, bedryfsamptenaar by Agri Noord-Kaap.
Sy sê opleiding vind vandeesweek op Hopetown en Springbok plaas om die departement verder te steun. Lede van die publiek en boere word versoek om swerms by me. Mulalo Matodzi by 083 326 7773, me. Vuyokazi Mpumlwana by 084 760 8176 of dr. Ikalafeng Kgakatsi by 072 198 9882 aan te meld.
Boere kan swerms ook by die kantoor van die departement van landbou op De Aar aanmeld by 053 631 3122 of 053 631 3261, of by dr. Gerhard Verdoorn by 082 446 8946.
Wes-Kaap
Ná die goeie reënval in die Wes-Kaap broei daar ook in dié provinsie baie swerms uit.
Volgens mnr. Daniël Minnaar, landbou-ekonoom by Agri Wes-Kaap, kom swerms tans in groot dele van die Sentraal-Karoo voor by Laingsburg, Merweville, Prins Albert, Beaufort-Wes en Murraysburg.
“By Merweville en Beaufort-Wes is reeds gesamentlik 300 swerms die afgelope vier weke bespuit. Op dié stadium is die plaag nog voetgangers, wat dit relatief maklik maak om te bespuit. Sodra die sprinkane begin vlieg, raak dit aansienlik moeiliker swerms om te bekamp. Saans en vroegoggend is die beste tyd om te spuit, aangesien die sprinkane dan minder rondbeweeg."
Plase in die Karoo is uiteraard groot en wyd verspreid. Daarom is een van ons bekommernisse dat swerms ongemerk sal uitbreek op vakante grond of grond wat nie gereeld nagegaan word nie.
"Agri Wes-Kaap versoek alle grondeienaars in die Sentraal-Karoo om hul grond na te gaan en swerms by 083 649 9306 aan te meld."